JESAJA 16 - Nuwe Lewende Vertaling

1Vlugtelinge uit Moab

stuur uit Sela in die woestyn

lammers na Jerusalem

om die koning van Juda

se guns te wen.

2Soos fladderende voëltjies

wat uit die nes geskop is,

so is die vroue van Moab

by die Arnondriwwe.

3“Help ons,” roep hulle.

“Beskerm ons teen ons vyande.

Beskerm ons vlugtelinge

teen hulle aanvalle.

Moet ons nie verraai nie.

4Laat Moab se vlugtelinge

tussen julle bly.

Beskerm ons

tot die vernietiger verbygegaan het.”

Wanneer verdrukking

en verwoesting

verbygegaan het

en die vyand verdwyn het,

5sal Dawid se troon

deur liefde gevestig word.

Van daardie troon af

sal ’n getroue koning regeer

en hy sal doen wat regverdig en reg is.

6Is dit Moab, daardie trotse land

waarvan ons

so baie gehoor het?

Sy hoogmoedige gespog en arrogansie

is alles weg!

7Die hele land Moab huil.

Ja, julle mense van Moab,

huil oor die rosyntjiekoeke

van Kir-Geres.

8Huil oor die verlate plase

van Gesbon

en die wingerde van Sibma.

Die wyn van hierdie wingerde

het konings van nasies

dronk laat word.

Moab was soos ’n wingerd

wat gestrek het tot by Jaser

en gerank het tot in die woestyn.

Die ranke het

tot by die Dooie See gekom.

9Maar nou het die vyand

die wingerd vernietig.

Daarom huil Ek vir Jaser

en die wingerde van Sibma.

My trane loop

oor Gesbon en Elale,

want julle vrugte-oes en graanoes

is vernietig.

10Weg is die vreugde.

Verby is die gejuig

oor die oes.

Die vrolike sang en geroep

in die wingerde

word nie meer gehoor nie.

In die parskuipe

trap niemand wyn uit nie.

Want Ek het ’n einde gebring

aan al hulle oesvreugde.

11Ek huil oor Moab.

Ek is baie hartseer oor Kir-Geres.

12Die mense van Moab

sal op die heuwels

hulle gode angstig aanroep.

Maar dit sal nie help nie.

Hulle sal roep na die gode

in hulle heiligdomme,

maar niemand red hulle nie.

13Die Here het dit lankal al

oor Moab gesê.

14Maar nou voeg die Here by:

“Binne drie jaar,

wat so ondraaglik sal wees

soos vir ’n dagloner

wat hom afsloof,

sal van Moab se glorie

en baie mense min oorbly.

Hulle wat oorbly,

sal min en swak wees.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help