JONA 2 - Nuwe Lewende Vertaling

Jona se gebed

1Jona het uit die ingewande van die vis tot die Here sy God gebid.

2Hy het gesê:

“In my groot nood

het ek die Here aangeroep

en Hy het my geantwoord.

Ek het uit die doderyk geroep

en U het my gehoor!

3In die diepte van die oseaan

het U my gegooi.

Ek het tot in die hart

van die see gesink.

Strome het rondom my gekolk.

U het golf na golf oor my laat spoel.

4Ek het gesê:

‘Uit u teenwoordigheid

het U my verdryf.

Hoe sal ek ooit weer

u heilige tempel sien?’

5“Water het my verswelg,

die diepwaters het my omring.

Seegras was om my kop gedraai.

6Ek het afgesak tot waar die berge begin.

Ek was afgesluit van die lewe,

vasgevang in die land van die dooies.

Maar U, Here my God, het my gered

uit die oop kake van die dood!

7“Toe ek alle hoop verloor het,

het ek weer aan die Here gedink.

In u heilige tempel

het U my gebed gehoor.

8Wie vals gode aanbid,

minag God se goedheid.

9Ek sal met lofliedere

vir U ’n offer bring.

Ek sal doen

wat ek beloof het.

Net die Here bring verlossing!”

10Toe het die Here die vis beveel en hy het Jona op die strand uitgespoeg.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help