JESAJA 32 - Nuwe Lewende Vertaling

Israel se groot redding

1Kyk, daar kom ’n koning

wat regverdig sal wees!

En leiers sal eerlik oor die volk regeer.

2Hy sal Israel beskerm

teen die wind en die storm.

Hy sal hulle verfris

soos ’n rivier in die woestyn

en soos die koel skaduwee

van ’n groot rots

in ’n verlate land.

3Dan sal almal wat kan sien,

God raaksien.

En almal wat kan hoor,

sal na sy stem luister.

4Selfs die heethoofdiges

onder hulle

sal kalm raak en verstaan.

Die mense wat onseker hakkel,

sal gemaklik kan praat.

5’n Dwaas sal nie meer

as eerbaar beskou word nie,

en ’n skurk sal nie meer

gerespekteer word nie.

6Almal sal dwase

raaksien vir wat hulle is.

Hulle versprei liegstories

oor die Here.

Hulle steel honger mense se kos.

Hulle gee nie water

vir mense wat dors is nie.

7Die skelmstreke van skurke

sal onthul word.

So ook al die liegstories

wat hulle vertel het

om arm mense in die howe

te verdruk.

8Maar eerbare mense

het eerbare planne.

Hulle sal eerbaar

behandel word.

9Luister, vroue

wat selfvoldaan lewe.

Luister na my,

julle wat so selfversekerd is!

10Binnekort,

oor ’n bietjie meer as ’n jaar,

sal julle wat nou so sorgeloos is

skielik iets hê om oor te bewe.

Want julle vrugte-oes

sal vergaan.

Daar sal geen oes wees nie.

11Bewe, onbesorgde vroue.

Raak ontslae

van julle onbesorgdheid.

Trek uit julle mooi klere.

Dra klere van sak oor julle smart.

12Slaan op julle borste van smart.

Want julle oorvloedige plase

is een van die dae daarmee heen.

So ook julle vrugbare wingerde.

13Want julle land

sal oorgroei word

met dorings en dissels.

Julle vrolike huise

en gelukkige stede

sal weg wees.

14Die paleis en die stad

sal verlate lê.

Besige dorpe sal leeg wees.

Troppe donkies en bokke

sal op die heuwels wei

waar julle uitkyktorings

eers gestaan het.

15Dit sal so bly

totdat die Gees uit die hemel

oor ons uitgestort word.

Dan word die woestyn

’n vrugbare veld.

En die vrugbare veld

word ’n welige woud.

16Regverdigheid

sal in die woestyn heers,

en geregtigheid

in die vrugbare veld.

17Reg sal veroorsaak

dat daar vrede sal wees.

En geregtigheid sal veroorsaak

dat almal rustig

en veilig sal bly.

18My volk sal veilig bly,

rustig in hulle huise.

Hulle sal vrede hê.

19Ook al vernietig hael die woud

en word die stad platgevee,

20met julle

sal dit geseënd gaan.

Waar julle ook al saai,

sal goeie oeste volg.

Julle beeste en donkies

sal die wêreld vol wei.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help