PSALMS 30 - Nuwe Lewende Vertaling

Droefheid verander in vreugde

1’n Dawidspsalm. ’n Lied vir die inwyding van die tempel.

2Ek sal u lof verkondig, Here,

want U het my gered.

U het my vyande verhinder

om bly te wees oor my.

3 Here my God,

ek het na U geroep om hulp

en U het my gesond gemaak.

4 Here,

U het my gered

van die doderyk,

U het verhoed

dat ek saam met ander wegsak

in die graf.

5Sing tot eer van die Here,

julle wat getrou is!

Loof sy heilige Naam.

6Sy toorn

duur net ’n oomblik,

maar sy genade

is lewenslank!

In die nag

vloei die trane,

maar in die oggend

is daar vreugde.

7Toe ek voorspoedig was,

het ek gesê:

“Niks sal my ooit beweeg nie!”

8U goedheid, Here,

was vir my

soos ’n stewige berg.

Maar toe U van my af wegdraai,

was ek verskrik.

9Ek het na U geroep, Here.

Ek het by U, Here, gepleit

om genade:

10“Wat sal dit U baat

as ek sterf,

as ek wegsak in die graf?

Kan my stof U loof

in die doderyk?

Kan my stof u trou

daar verkondig?

11Luister, Here,

en wees my genadig.

Help my tog, Here!”

12U het my droefheid verander

in ’n dans van vreugde.

U het my rouklere weggeneem

en my met vreugde geklee.

13Daarom sal ek sing tot u eer

en nie swyg nie.

Here my God,

ek sal U dank vir altyd.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help