SPREUKE 25 - Nuwe Lewende Vertaling

1Hier is nog spreuke van Salomo. Koning Hiskia van Juda se amptenare het dit versamel.

2Dit is God se reg

om iets geheim te hou.

Dit is konings se voorreg

om uit te vind

wat iets beteken.

3So min soos iemand

die hoogte van die lug

of die diepte van die aarde

kan bepaal,

net so min kan iemand peil

wat aangaan

in die gedagtes van konings.

4Wanneer jy die onsuiwerheid

uit silwer haal,

kan die smid

iets van die silwer maak.

5As jy die goddeloses

by die koning wegvat,

kan hy regverdig bly regeer.

6Moenie jou vernaam hou

voor die koning,

en moenie gaan staan op die plek

vir belangrike mense nie.

7Dis beter

wanneer vir jou gesê word:

“Kom staan asseblief hier!”

as dat jy plek moet maak

vir iemand belangriker as jy.

As jy iets opgemerk het,

8moet jy nie te haastig wees

om ’n saak teen iemand anders

te maak nie.

Wat sal jy agterna doen

as jou buurman jou belaglik maak?

9Bespreek eers die saak

met die ander persoon.

Moenie te koop loop

met wat iemand vertroulik

vir jou gesê het nie.

10Jy kan dan beskuldig word

dat jy skinder.

Dan het jy vir altyd

’n slegte naam.

11Woorde op die regte tyd gesê,

is soos goue appels

in ’n silwer houer.

12Soos ’n goue ring by goue juwele,

so is die wyse vermaning

by die oor wat bereid is

om daarna te luister.

13Vir die een wat hom stuur,

is ’n betroubare boodskapper

net so verkwikkend soos sneeu

in die somerhitte van die oes.

Hy gee vir sy werkgewer

nuwe moed.

14Iemand wat spog

oor ’n geskenk

wat hy nooit gegee het nie,

is soos wolke en wind

wat geen reën bring nie.

15’n Leier

kan met geduld oorreed word.

Versigtige woorde

breek harde weerstand af.

16Wanneer jy op heuning afkom,

eet net tot jy genoeg gehad het.

As jy te veel eet,

gaan jy naar word.

17Moenie te veel

by jou buurman gaan kuier

sodat hy te veel van jou sien

en ’n weersin in jou kry nie.

18Iemand wat vals getuienisse

oor ’n ander versprei,

is net so gevaarlik

soos ’n knuppel, ’n swaard

en ’n skerp pyl.

19’n Gebreekte tand,

’n voet wat swik,

so is dit om in gevaar

staat te maak

op ’n onbetroubare mens.

20So onvanpas soos dit is

om klere uit te trek

op ’n koue dag,

of asyn op bytsoda te sit,

so min van pas is dit dat iemand

vir jou liedjies sing

wanneer jy treurig voel.

21As jou vyand honger is,

moet jy hom iets gee om te eet.

As hy dors is,

gee hom iets om te drink.

22Die Here

sal jou daarvoor vergoed.

Jy sal buitendien kole ophoop

op jou vyand se kop

en hom vuurrooi maak

van skaamte.

23So seker soos die noordewind

altyd reën bring,

so seker maak hulle

wat agteraf praat

altyd ander mense kwaad.

24Dit is beter om op die hoek

van ’n platdak te bly,

as binne-in ’n huis saam met ’n vrou

wat oor alles stry.

25Goeie nuus van ’n ver land af

is soos koue water

vir ’n moeë mens se dors.

26’n Regverdige mens

wat swig voor die goddelose

is soos ’n fontein vol modder,

soos ’n put

met vuil water.

27Om te veel heuning te eet,

is nie goed nie,

so ook is iemand

wat voortdurend sy eie eer soek.

28Iemand wat homself

nie in bedwang kan hou nie,

is soos ’n stad sonder ’n muur

wat beskerming bied.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help