1As julle medewerkers smeek ons julle om toe te sien dat julle die genade van God nie tevergeefs ontvang het nie.
2Want Hy sê:
“Op die regte tyd
het Ek jou verhoor,
en op die dag van verlossing
het Ek jou gehelp.”
Inderdaad – dit is nóú die regte tyd; dit is nóú die dag van verlossing.
Die krag van God maak Paulus sterk3Ons gee niemand enige aanstoot nie, met die bedoeling dat ons bediening nie geblameer moet word nie.
4In elke opsig laat ons ons ken as diensknegte van God deur aanhoudend te volhard: in swaarkry, in nood, in benoudheid.
5Onder katshoue, in tronke, in oproere, in uitputtende arbeid, in slapelose nagte, in hongersnood
6het ons opgetree met integriteit, met begrip, met verdraagsaamheid en vriendelikheid, deur betoning van die teenwoordigheid van die Heilige Gees, deur opregte liefde,
7deur die boodskap van die waarheid en in die krag van God. Ons tree op met die wapens van geregtigheid in ons regter- en linkerhand,
8in eer en oneer, in veragting en aanprysing; soos verleiers, en tog is ons opreg;
9soos onbekendes, en tog is ons goed bekend; soos mense wat sterwend is, en kyk, ons lewe; as gegéseldes, en tog is ons nie doodgemaak nie;
10as bedroefdes, en tog is ons altyd blymoedig; soos bedelaars, maar ons verryk baie mense; soos mense wat niks besit nie, en tog besit ons alles.
11Ons het ons monde tot julle voordeel oopgemaak, Korintiërs; ons harte is regtig oop vir julle.
12Ons het nie teenoor julle voorbehoude gehad nie, maar julle het wel in julle binneste voorbehoude teenoor ons gehad.
13Ek praat soos met kinders: Wil julle nie nou ook vir ons “terugbetaal” deur julle harte vir ons wyd oop te maak nie?
Die gelowiges is die tempel van die lewende God14Moenie saamspan met ongelowiges nie, want watter vennootskap kan daar wees tussen reg en onreg? Of watter gemeenskap kan daar wees tussen lig en duisternis?
15Watter ooreenkoms kan daar wees tussen Christus en Belial? Of watter gemeenskaplikheid kan daar wees tussen ’n gelowige en ’n ongelowige?
16Watter ooreenkoms het die tempel van God met afgode? Ons is mos die tempel van die lewende God. Dit is soos God gesê het:
“Ek sal onder hulle woon
en rondbeweeg,
en Ek sal hulle God wees
en hulle sal my volk wees.”
17Daarom: “Gaan van hulle af weg
en hou julle eenkant, sê die Here,
en moenie vat aan wat onrein is nie;
dan sal Ek julle ontvang.”
18En ook: “Ek sal vir julle
’n Vader wees,
en julle sal vir My
seuns en dogters wees,
sê die Here die Almagtige.”
Who We AreWhat We EelieveWhat We Do
2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.