1 KORINTIËRS 16 - Nuwe Lewende Vertaling

Paulus tref reëlings vir die Jerusalemkollekte

1Wat die geld betref wat ons vir die gelowiges in Jerusalem insamel, moet julle dieselfde reëling volg wat ek met die gemeentes in Galasië getref het.

2Op elke Dag van die Here moet elkeen van julle na vermoë tuis iets opsy sit en dit spaar sodat daar nie eers insamelings plaasvind wanneer ek kom nie.

3Wanneer ek kom, sal ek die persone waarop julle besluit, met aanbevelingsbriewe stuur om julle gawe in Jerusalem af te lewer.

4As dit wenslik sou blyk dat ek ook gaan, kan hulle saam met my reis.

5Ek sal na julle toe kom nadat ek deur Masedonië gereis het. Ek reis deur Masedonië

6en sal miskien by julle vertoef of dalk selfs oorwinter. Dan kan julle my help na my volgende bestemming, waar dit ook mag wees.

7Ek wil julle nie nou bloot in die verbygaan sien nie, maar ek hoop om ’n rukkie by julle deur te bring as die Here my sal toelaat.

8Intussen bly ek in Efese tot Pinkster,

9want hier staan nou ’n wye deur vir my oop en daar is baie mense wat op die evangelie reageer. Daar is egter ook baie teenstanders.

10As Timoteus by julle aankom, help hom om met volle vrymoedigheid by julle op te tree. Hy doen die Here se werk, net soos ek.

11Kyk dat niemand hom intimideer nie. En help hom om sy reis voorspoedig voort te sit op pad na my toe. Ek verwag hom saam met die ander broers.

12Wat ons broer Apollos betref – ek het sterk by hom aangedring om saam met die ander broers na julle toe te kom, maar hy het glad nie kans gesien om nou te kom nie. Hy sal kom wanneer die tyd daarvoor reg is.

13Wees waaksaam! Staan vas in wat julle glo! Wees moedig! Wees sterk!

14Alles wat julle doen, moet in liefde geskied.

15Julle weet dat Stefanas en sy huisgesin die eerste bekeerlinge in Suid-Griekeland was en dat hulle hulle lewe wy aan die diens van ander Christene. Ek vra julle ernstig

16dat julle hulle sal respekteer en ander soos hulle wat met groot toewyding vir die Here werk.

17Ek is so bly dat Stefanas, Fortunatus en Agaïkus hier aangekom het. Hulle het vergoed vir julle afwesigheid.

18Hulle het my gees weer opgebeur, soos ook julle s’n. Respekteer mense soos hulle.

Paulus dra groete oor

19Die gemeentes hier in die provinsie Asië groet julle hartlik in die Here, saam met Akwila en Priscilla en al die ander gemeentelede wat in hulle huis bymekaarkom.

20Al die broers en susters hier het my gevra om julle namens hulle te groet. Groet mekaar met die soen van Christelike liefde.

21 Hier is my eie groet. Ek is Paulus, en ek skryf dit met my eie hand.

22As iemand die Here nie liefhet nie – laat hom vervloek wees. Kom, ons Here!

23Mag die genade van ons Here Jesus met julle wees.

24Mag my liefde met julle almal in Christus Jesus bly.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help