JESAJA 19 - Nuwe Lewende Vertaling

’n Boodskap oor Egipte

1Hierdie boodskap

het na my gekom oor Egipte:

Kyk! Die Here is op pad

na Egipte toe.

Hy ry op ’n vinnige wolk.

Egipte se afgode bewe voor Hom.

Die Egiptenaars smelt weg

van vrees.

2“Ek laat die Egiptenaars

teen mekaar baklei,

broer teen broer,

buurman teen buurman,

stad teen stad,

provinsie teen provinsie.

3Die Egiptenaars

sal moed verloor.

Ek sal hulle planne verydel.

Hulle sal by hulle afgode

pleit vir wysheid.

Hulle sal geeste oproep,

en mediums en besweerders

om raad gaan vra.

4Ek gee Egipte oor

aan ’n wrede meester,

’n harde koning,”

sê die Here, die Here, die Almagtige.

5Die see sal opdroog,

die rivier sal leeg word.

6Die Nyl se kanale sal sleg ruik.

Egipte se waterstrome

sal opdroog.

Die riete en biesies sal verlep.

7Die papirusplante langs die Nyl

sal opdroog en wegwaai.

Die oeste sal wegdroog.

Alles sal verdwyn.

8Die vissermanne

sal van hartseer huil.

Dié wat met ’n hoek visvang

en dié wat nette

in die rivier oopgooi,

sal wegkwyn.

9Die wewers wat vlas

en katoen gebruik

om te weef,

sal geen hoop oorhê nie.

10Hulle sal afgehaal wees.

Die loonarbeiders sal siek wees

van bekommernis.

11Watter dwase

is die adviseurs van Soan nie!

Hulle beste raad

vir die koning van Egipte

is dom en verkeerd.

Sal hulle voor die farao spog

omdat hulle so slim is,

dat hulle van konings afstam?

12Wat het gebeur

met jou slim adviseurs, Farao?

As hulle so slim is,

laat hulle jou vertel

wat die Here, die Almagtige,

aan Egipte gaan doen!

13Die wyse manne van Soan

is dwaas,

en dié van Memfis is verward.

Die leiers van Egipte

het die land geruïneer

met hulle dom raad.

14Die Here het hulle dwaas gemaak

sodat al hulle voorstelle

verkeerd is.

Hulle het die land van Egipte

soos ’n siek dronklap laat steier.

15Niemand in Egipte,

of hy ryk of arm,

belangrik of onbelangrik is,

kan hom help nie.

16Daardie dag sal die Egiptenaars so swak soos vroue wees. Hulle sal wegkruip van vrees wanneer die Here, die Almagtige, sy vuis teen hulle optel.

17Net om Israel se naam te noem, sal angs vir die Egiptenaars bring. Want die Here, die Almagtige, het sy planne klaar teen Egipte opgestel.

18Daardie dag sal vyf Egiptiese stede die Here, die Almagtige, volg. Hulle sal selfs Hebreeus praat. Een van hulle sal die Stad van Verwoesting genoem word.

19Daardie dag sal daar ’n altaar vir die Here in die hart van Egipte wees, en ’n monument vir die Here by sy grens.

20Dit sal ’n teken en getuienis wees van die Here, die Almagtige, se teenwoordigheid in Egipte. Wanneer die mense na die Here om hulp roep wanneer hulle verdruk word, sal Hy iemand stuur wat hulle sal beskerm en red.

21Daardie dag sal die Here Homself aan die mense van Egipte openbaar. Ja, hulle sal die Here ken en diere-offers en graanoffers vir Hom bring. Hulle sal beloftes aan die Here maak, en dit nakom.

22Die Here sal die Egiptenaars slaan sodat Hy hulle kan genees, en hulle sal terugkom na die Here. Hy sal luister as hulle om hulp roep en hulle gesond maak.

23Daardie dag sal Egipte en Assirië met ’n hoofpad verbind wees. Die Egiptenaars en Assiriërs sal vrylik tussen hulle lande beweeg, en hulle sal dieselfde God dien.

24Israel sal hulle bondgenoot wees. Die drie sal saamwerk, en Israel sal vir hulle tot ’n seën wees.

25Die Here, die Almagtige, sal sê:

“Geseënd is my volk Egipte,

geseënd is Assirië

wat deur My geskep is,

en geseënd is Israel,

my eiendom.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help