JESAJA 5 - Nuwe Lewende Vertaling

’n Lied oor die Here

se wingerd

1Ek wil ’n lied sing

vir die een wat ek liefhet,

oor sy wingerd:

My beminde het ’n wingerd

teen ’n baie vrugbare heuwel.

2Hy het die grond omgespit,

die klippe verwyder

en beplant

met edel wingerdstokke.

In die middel

het hy ’n wagtoring gebou

en ’n parskuip uitgekap.

Hy het gewag vir ’n oes

van soet druiwe,

maar die druiwe

was wild en suur.

3“Inwoners van Jerusalem

en Juda,

oordeel tussen My

en my wingerd.

4Wat moes Ek meer gedoen het

om ’n oes te verseker?

Hoekom het Ek

wilde druiwe gekry

toe Ek soet druiwe verwag het?

5Kom Ek vertel jou

wat Ek met my wingerd gaan doen:

Ek gaan sy omheining afbreek,

sodat dit vernietig sal word.

Ek gaan sy mure afbreek,

sodat wilde diere

dit kan vertrap.

6Ek maak dit ’n woestyn.

Die wynstokke

snoei Ek nie meer nie

en die grond

skoffel Ek nie meer om nie.

Dorings en onkruid

sal dit toegroei.

Ek beveel die wolke

om nie daaroor te reën nie.”

7Die wingerd van die Here,

die Almagtige,

is die volk Israel.

En Juda is sy mooi tuin.

Hy het ’n oes

van geregtigheid verwag,

maar net bloedvergieting gekry;

gesoek na regverdigheid,

maar net die hulpgeroep

van verdrukte mense gehoor.

Juda se skuld en oordeel

8Verwoesting wag

as julle aanhou

om eiendom op te koop

sodat geen plek

oorbly en julle alleen

in die land bly.

9Maar die Here, die Almagtige,

verklaar

waar ek dit gehoor het:

“Baie mooi huise sal leeg staan,

sonder enige inwoners.

10’n Wingerd

van tien akker sal nie eens ’n tiende

van sy opbrengs lewer nie.

Tien dele saad

sal net een deel graan lewer.”

11Verwoesting wag

as julle vroeg opstaan

sodat julle tot laatnag kan drink.

Julle kuier tot laat,

totdat die wyn julle bedwelm.

12Julle het harpe en liere

by julle partytjies,

tamboeryne,

fluite en wyn.

Maar julle steur julle nie

aan wat die Here doen nie,

en sien nie sy dade raak nie.

13Daarom stuur Ek my volk

weg in ballingskap,

omdat hulle My nie ken nie.

Die mees geëerdes

onder julle

sal doodgaan van die honger,

en die gewone mense

sal sterf van die dors.

14Die graf se aptyt is opgewek,

hy maak sy mond wyd oop

vir julle.

Vooraanstaandes

en gewone mense

sal ingesluk word,

saam met die rumoerige

dronkaards.

15Dan sal mense verneder word

en in die stof beland,

die trotses sal tot ’n val kom.

16Die Here, die Almagtige,

sal verhoog word.

Hy sal geregtigheid laat geskied.

Die heiligheid van God

sal in sy regverdigheid

uitgestal word.

17Dan sal kuddes

in hulle eie weivelde wei,

lammers en bokkies sal

tussen die puinhope wei.

18Verwoesting wag vir mense

wat hulle sonde

agter hulle aansleep

met bande van valsheid

en sonde.

19Hulle sê:

“Laat Hom gou maak en iets doen

sodat ons dit kan sien!

Laat die Heilige Een van Israel

vir ons wys wat Hy beplan

sodat ons dit kan weet!”

20Verwoesting wag vir hulle

wat sê

dat sleg goed is en goed sleg,

dat donker lig is en lig donker,

dat bitter soet is en soet bitter.

21Verwoesting wag vir elkeen

wat dink dat hy slim is

en homself wys ag.

22Verwoesting wag vir mense

wat helde is

as dit by ’n gedrinkery kom,

wat meesters is

in hoe jy drankies meng.

23Dis hulle wat omkoopgeld vat

om skuldiges vry te laat.

Hulle laat die boses vry uitloop

en straf die onskuldiges.

24Daarom sal hulle verdwyn

soos strooi of droë gras

wat brand.

Hulle wortels sal opdroog

en hulle blomme verlep,

want hulle het die instruksies

van die Here, die Almagtige,

verwerp.

Hulle het die woord

van Israel se Heilige Een

geminag.

25Daarom het die woede

van die Here

teen sy volk ontvlam.

Daarom het Hy sy vuis opgelig

om sy volk plat te slaan.

Die heuwels bewe

en die lyke word soos vullis

wat op straat gegooi is.

Selfs dan sal die Here se woede

nie uitgebrand wees nie.

Sy vuis sal reg wees om te slaan!

26Hy sal ’n teken gee vir nasies

wat ver weg is.

Hy sal fluit vir hulle

by die eindes van die aarde,

en hulle sal aangehardloop kom.

27Hulle sal nie moeg word

of struikel nie.

Hulle hardloop sonder om te rus

of te slaap.

Nie ’n gordel sal loshang

of ’n skoenriem

stukkend wees nie.

28Hulle pyle sal skerp wees

en hulle boë reg vir die geveg.

Vonke spat

van hulle perde se hoewe

soos die wiele van hulle waens

en soos die wind

in alle rigtings draai.

29Hulle brul soos leeus.

Hulle bespring hulle prooi.

Hulle sal my volk gryp,

hulle in ballingskap wegdra,

en daar sal niemand wees

wat hulle red nie.

30Die vyandige nasies

sal grom soos die see

oor hulle slagoffers.

’n Wolk van donkerte

en hartseer

sal oor Israel hang.

Die lig sal verduister

voor die wolke.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help