PSALMS 7 - Nuwe Lewende Vertaling

God is ’n betroubare regter

1’n Dawidspsalm wat hy vir die Here gesing het na aanleiding van Kus, ’n Benjaminiet.

2 Here my God,

ek soek u beskerming.

Red my van al my vervolgers, red my!

3Anders sal hulle my toetakel

soos ’n leeu,

my in stukke skeur

sonder dat iemand my red.

4 Here my God,

as ek iets verkeerds gedoen het,

as ek skuldig is aan onreg,

5as ek ’n vriend van my

verraai het,

my vyand sonder rede

beroof het,

6laat my vyande my agtervolg

en vang,

my in die grond in vertrap,

my eer

tot in die stof verneder.

Sela

7Staan op, Here, in u toorn!

Tree op

teen my vyande se woede!

Kom tot aksie, my God!

Laat u geregtigheid seëvier!

8Laat die nasies om U versamel.

Sit op u troon,

ver bo hulle verhewe.

9 Here, U wat regspreek

oor die volke,

oordeel my, Here,

volgens my regverdigheid

en in die lig van my onskuld.

10Regverdige God

wat gedagtes en gevoelens deursoek,

maak ’n einde

aan die boosheid

van die goddelose,

maar ondersteun die regverdiges.

11God is my skild,

Hy wat opregtes van hart

verlos.

12God is ’n regverdige regter;

God oordeel

bose mense daagliks.

13As iemand nie berou het nie,

maak Hy sy swaard skerp.

Hy span sy boog

en hou dit gereed.

14Hy het dodelike wapens

voorberei

en sy vurige pyle is gereed.

15Hy wat swanger is van sonde,

wat verwagtend is van onheil,

gee geboorte aan leuens.

16Hy grawe ’n gat

om ander te vang,

maar val dan self daarin.

17Sy boosheid tref homself,

sy geweld kom neer

op sy eie kop.

18Ek wil die Here dank

omdat Hy regverdig is.

Die Naam

van die allerhoogste Here

wil ek besing.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help