DEUTERONOMIUM 27 - Nuwe Lewende Vertaling

Die altaar op Ebalberg

1Moses en die leiers van Israel het aan die volk die volgende opdrag gegee: “Gehoorsaam al hierdie bevele wat ek jou vandag gee.

2Wanneer jy die Jordaanrivier oorsteek en die land binnetrek wat die Here jou God vir jou gee, moet jy ’n paar groot klippe opstapel en hulle met kalk afwit.

3Wanneer jy die rivier oorsteek om die land binne te trek wat die Here jou God vir jou gee, moet jy al hierdie gebooie daarop neerskryf. Dis ’n baie vrugbare land wat die Here, die God van jou voorouers, jou beloof het.

4“Nadat julle die Jordaan oorgesteek het, gaan sit hierdie klippe by Ebalberg neer. Wit dit dan met kalk af, soos wat ek jou vandag beveel.

5Bou daar ’n altaar van gewone klip vir die Here jou God.

6Moenie dit met gekapte klippe bou nie. Offer brandoffers op die altaar vir die Here jou God.

7“Bring ook vredesoffers daarop, en vier met groot vrolikheid fees in die teenwoordigheid van die Here jou God.

8Op die afgewitte klippe moet jy die bepalings van die gebooie duidelik neerskryf.”

9Moses en al die Levitiese priesters het toe die hele Israel soos volg toegespreek: “Israel, wees stil en luister! Vandag het jy die volk van die Here jou God geword.

10Wees gehoorsaam aan die Here jou God en kom al hierdie opdragte en voorskrifte na wat ek vandag vir jou gee.”

Vervloeking van Ebalberg af

11Daardie selfde dag het Moses ook die volgende opdrag aan die volk gegee:

12“Wanneer julle die Jordaanrivier oorsteek, moet die stamme van Simeon, Levi, Juda, Issaskar, Josef en Benjamin op die Gerisimberg gaan staan om die volk te seën.

13Die stamme van Ruben, Gad, Aser, Sebulon, Dan en Naftali moet op die Ebalberg gaan staan om ’n vloek uit te spreek.

14Die Leviete moet dan hardop oor die hele volk Israel uitroep:

15“‘Vervloek is elkeen

wat ’n afgodsbeeld uitkerf

of giet

en dit in die geheim aanhou.

Hierdie afgode

is die werk van ambagsmense,

hulle is afskuwelik vir die Here.’

Dan moet die hele volk antwoord:

‘Amen.’

16‘Vervloek is elkeen

wat sy pa of ma verag.’

Dan moet die hele volk antwoord:

‘Amen.’

17‘Vervloek is elkeen

wat sy naaste se eiendom steel

deur die grensbaken te verskuif.’

Dan moet die hele volk antwoord:

‘Amen.’

18‘Vervloek is elkeen

wat ’n blinde persoon

laat verdwaal.’

Dan moet die hele volk antwoord:

‘Amen.’

19‘Vervloek is elkeen

wat onregverdig optree

teenoor vreemdelinge,

weeskinders en weduwees.’

Dan moet die hele volk antwoord:

‘Amen.’

20‘Vervloek is elkeen

wat seksuele gemeenskap

met die vrou van sy pa het,

want hy het sy pa

oneer aangedoen.’

Dan moet die hele volk antwoord:

‘Amen.’

21‘Vervloek is elkeen

wat seksuele gemeenskap

met ’n dier het.’

Dan moet die hele volk antwoord:

‘Amen.’

22‘Vervloek is elkeen

wat seksuele gemeenskap het

met sy suster,

of sy nou die dogter is

van sy pa of ma.’

Dan moet die hele volk antwoord:

‘Amen.’

23‘Vervloek is elkeen

wat seksuele gemeenskap

met sy skoonma het.’

Dan moet die hele volk antwoord:

‘Amen.’

24‘Vervloek is elkeen

wat iemand anders

in die geheim doodmaak.’

Dan moet die hele volk antwoord:

‘Amen.’

25‘Vervloek is elkeen

wat omkoopgeld aanneem

om iemand anders dood te maak.’

En die hele volk moet antwoord:

‘Amen.’

26‘Vervloek is elkeen

wat hom nie hou

by die voorwaardes

van hierdie gebooie

deur daaraan gehoorsaam

te wees nie.’

Dan moet die hele volk antwoord:

‘Amen.’”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help