JESAJA 53 - Nuwe Lewende Vertaling

1Wie het ons boodskap geglo?

Aan wie het die Here

sy reddende mag openbaar?

2My dienaar het gegroei

soos ’n loot wat uitspruit

in die teenwoordigheid

van die Here,

soos ’n plant wat groei

in droë grond.

Hy was nie mooi of koninklik

sodat hy ons sou aantrek,

of met ’n voorkoms

dat ons van hom sou hou nie.

3Hy was verag

en verwerp deur mense,

iemand wat leed en pyn

geken het.

Hy was soos iemand vir wie mense

die gesig wegdraai,

verag

en ons het hom nie geag nie.

4Tog was dit ons swakhede

wat hy gedra het.

Hy het ons pyn verduur.

Ons het aan hom gedink

as dat God hom slaan,

kasty en teister.

5Hy is geslaan en gepynig

ter wille van ons sondes.

Hy is gestraf

sodat ons in vrede kan leef.

Hy is geslaan

sodat ons gesond kan word.

6Almal van ons het weggedwaal

soos ’n klomp skape.

Ons het ons eie pad gevolg.

En toe het die Here

ons almal se skuld en sondes

op hom laat neerkom.

7Hy is geslaan en mishandel,

maar hy het sy mond

nie oopgemaak nie.

Hy is soos ’n lam

wat ter slagting gelei word.

Soos ’n skaap stil is

voor sy skeerders,

so het ook hý sy mond

nie oopgemaak nie.

8Hy is verdruk, skuldig bevind,

en weggelei na sy dood.

Wie van sy mense het besef

dat hy vir hulle sondes

doodgemaak word?

Dat hy eintlik in húlle plek

gestraf word?

9Hy het niks verkeerds

gedoen nie,

en het nooit enigiemand

bedrieg nie.

Tog is hy soos ’n misdadiger

begrawe,

in ’n ryke se graf

neergelê.

10Maar dit was die Here se wil

om hom te vermorsel

en te laat ly.

Al het die Here sy lewe

’n skuldoffer gemaak,

sal hy ’n groot nageslag kry

en nog lank lewe.

Die Here se plan

sal as gevolg van Hom ontvou.

11Ná sy bitter lyding

sal hy weer die lig sien

en tevrede wees.

En deur alles wat hy beleef het,

sal my regverdige dienaar

dit moontlik maak vir baie

om ook regverdig te word,

want hy dra al hulle sondes.

12Daarom eer Ek hom

as iemand

wat groot en magtig is.

Want hy was bereid

om doodgemaak te word

en as misdadiger beskou te word.

Hy het die sondes

van baie gedra,

en vir sondaars gebid.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help