SPREUKE 9 - Nuwe Lewende Vertaling

Wysheid se uitnodiging

1Wysheid het vir haar ’n huis gebou,

sy het sewe klippilare gekap.

2Sy het ’n feestelike ete gemaak.

Sy het die wyn geskink

en haar tafel gedek.

3Sy het toe haar bediendes

na hoë plekke

van die stad gestuur

om van daar mense uit te nooi:

4“Almal wat nog moet leer,

kom eet by my!”

Dié wat nog onkundig is,

het sy genooi:

5“Kom eet die kos

wat ek gemaak het.

Kom drink van die wyn

wat ek ingeskink het!

6Laat staan julle onkunde,

sodat julle kan lewe!

Kom, begin met insig lewe!”

Kies maar self

7Hy wat ’n spotter wil reghelp,

sal afgejak word.

Hy wat ’n goddelose mens

op die regte pad wil help,

sal seerkry.

8Moenie hom wat spot,

teregwys nie.

Hy sal jou daarvoor haat.

Wys iemand tereg wat wys is,

en hy sal lief wees vir jou.

9Gee jou raad vir ’n wyse mens,

en hy sal groter wysheid kry.

Onderrig ’n regverdige,

en sy kennis sal vermeerder.

10Wysheid begin daar

waar daar ontsag

vir die Here is.

Hy wat die heilige God ken,

het werklik insig.

11Wysheid verleng jou lewe,

gee jou meer lewensjare.

12As jy wysheid kry,

geniet jy self

die voordeel daarvan.

As jy dit verafsku,

dra jy self die verantwoordelikheid.

Dwaasheid se uitnodiging

13Dwaasheid

is soos ’n luidrugtige vrou,

stadig van begrip en sonder kennis.

14Sy sit by haar voordeur,

op hoë plekke

wat uitkyk oor die stad.

15Sy roep na elkeen

wat verbykom

en op die regte pad loop.

16Vir dié wat nog moet leer,

sê sy: “Draai af hiernatoe.”

Vir dié wat nog kennis kortkom,

sê sy:

17“Water is soeter as dit gesteel is.

Kos wat skelm geëet word,

is baie lekker!”

18Hulle wat na haar toe gaan,

besef nie dat die dooies

daar bly nie.

Hulle wat haar uitnodiging aanvaar,

is al klaar in die doderyk.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help