JEREMIA 30 - Nuwe Lewende Vertaling

Beloftes van verlossing

1Die Here het nog ’n boodskap vir Jeremia gegee. Hy het gesê:

2“Die Here, die God van Israel, sê: Alles wat Ek vir jou sê, moet jy in ’n boek neerskryf.

3Die tyd kom dat Ek die omstandighede van my volk Israel en Juda sal verander. Ek sal hulle laat terugkom na hierdie land wat Ek vir hulle voorouers gegee het sodat hulle dit weer in besit kan neem. Ek, die Here, sê dit!”

4Hier volg die boodskap wat die Here vir Israel en Juda gegee het.

5Die Here sê:

“Ek hoor hoe my volk

uitroep van angs!

Daar is vrees en nie rustigheid nie.

6Laat Ek jou ’n vraag vra:

Kan mans

babas in die wêreld bring?

Nou waarom staan hulle dan

soos ’n vrou in kraam:

hande op hulle heupe,

bleek in die gesig?

7Nog nooit in die geskiedenis

was daar al ooit

so ’n verskriklike tyd nie.

Dit is ’n tyd van moeilikheid

vir Israel,

maar op die ou end

sal hulle daaruit gered word!

8“Daardie dag,” sê die Here,

die Almagtige,

“sal Ek die juk breek

wat op julle nekke is

en julle boeie verwyder.

Geen vreemdeling sal meer

oor julle baasspeel nie.

9Hulle sal My,

die Here hulle God, dien.

Ek sal ook ’n koning aanstel

uit die nageslag van Dawid.”

10Die Here sê:

“Israel, my kneg, moenie bang

of verskrik wees nie.

Ek sal julle verlos uit ver plekke,

en julle nageslag uit ballingskap.

Israel sal terugkeer,

en weer rus en vrede

in hulle eie land hê.

Niemand sal hulle bangmaak nie.

11Ek is by julle en

Ek sal julle red, sê die Here.

Ek sal die nasies vernietig

onder wie Ek julle verstrooi het,

maar julle

sal Ek nie vernietig nie.

Ek dissiplineer julle.

Ek kan julle nie ongestraf laat nie.”

12Die Here sê:

“Julle beserings is ongeneeslik,

julle wonde kan nie gesond

word nie.

13Niemand kan julle saak

behartig nie.

Daar is ook nie medisyne

vir julle wonde

of genesing vir julle nie.

14Al julle bondgenote

het julle in die steek gelaat.

Hulle is nie langer besorg

oor julle nie.

Want Ek het julle gewond

asof Ek julle vyand is.

Julle oortredings was baie,

julle sondes oorvloedig.

15Waarom skreeu julle so

omdat julle seerkry?

Niks kan julle pyn

laat verdwyn nie.

Ek straf julle

omdat julle so baie oortree

en soveel sonde gedoen het.

16“Maar eendag sal hulle

wat julle verslind,

self vernietig word.

Al julle vyande

sal self in gevangenskap gaan.

Mense wat julle besteel,

sal besteel word.

Wie waag om julle aan te val,

sal self aangeval word.

17Ek sal julle gesond maak

en julle wonde genees,”

sê die Here,

“omdat julle ’n verstoteling

genoem word:

Sion, vir wie niemand omgee nie.”

18Maar die Here sê:

“Wanneer Ek julle terugbring

uit ballingskap en julle lot verander,

sal Jerusalem herbou word

waar nou net bouvalle is.

Die paleis sal ook weer

soos voorheen lyk.

19Die mense sal weer vrolik wees

en liedere sing

omdat hulle dankbaar is.

En Ek sal hulle laat vermeerder.

Hulle sal ’n groot volk wees,

en ander sal hulle respekteer.

20Dit sal met hulle kinders

goed gaan,

soos vroeër.

Ek sal hulle weer

as ’n volk

voor My vestig.

As iemand sou waag

om hulle te onderdruk,

sal Ek hulle straf.

21Een van hulle eie mense

sal hulle leier wees,

nie ’n vreemdeling nie.

Ek sal hom nooi

om voor My te kom,

want wie kan kom

as Ek hom nie genooi het nie?”

vra die Here.

22“Julle sal my volk wees

en Ek sal julle God wees.”

23Maar neem kennis:

die Here se woede

is soos ’n storm wat losbars.

Dit is soos ’n orkaan

wat die slegte mense tref.

24Die Here se verskriklike woede

sal nie bedaar nie

totdat Hy bereik

wat Hy beplan het.

Wanneer die tyd aanbreek,

sal julle dit verstaan.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help