PSALMS 57 - Nuwe Lewende Vertaling

Here

, u trou is hemelhoog

1Vir die koorleier: Op die wysie van “Moenie verwoes nie”. Van Dawid. ’n Gedig, met verwysing na die gebeurtenis toe hy in die grot van Saul af weggevlug het.

2Wees my genadig, o God,

wees my genadig!

Ek soek skuiling by U.

In die skaduwee van u vlerke

sal ek skuil

totdat die onheil verby is.

3Ek roep tot God

die Allerhoogste,

tot God wat gereed is om te help.

4Uit die hemel antwoord Hy

en red my;

hulle wat my wil vernietig,

sal Hy verneder.

Sela

God sal sy trou

en waarheid stuur.

5Ek is omring deur leeus,

tussen bloeddorstige mense

wat my wil verskeur.

Hulle tande

is soos spiese en pyle,

hulle tonge

so skerp soos swaarde.

6O God, mag U geprys word

ver bokant die hemele,

en u heerlikheid besing word

oor die hele aarde.

7Hulle het vir my voete

’n lokval gestel.

Ek voel terneergedruk.

Hulle het ’n gat

voor my gegrawe,

maar het self daarin geval.

Sela

8Ek vertrou geheel en al op U.

Op U, o God,

vertrou ek onwrikbaar.

Ek wil lofliedere sing.

9“Word vroeg wakker!” sê ek.

“Harp en lier, word wakker!”

Ek wil die dagbreek

wakker maak!

10Voor die volke wil ek U prys, Here,

tussen die nasies wil ek

u lof besing.

11Want u trou is hoër

as die hemele,

u waarheid

reik tot in die wolke.

12Mag U verhewe wees

tot bo die hemele, o God,

en u heerlikheid erken word

oor die hele aarde.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help