JEREMIA 48 - Nuwe Lewende Vertaling

’n Boodskap oor Moab

1Hierdie boodskap gaan oor Moab. Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê:

“Ellende wag vir Nebo,

die stad sal verwoes word.

Die stad Kirjatajim sal verneder

en ingeneem word.

Hulle sal die vesting verneder

en afbreek.

2Niemand sal meer

oor Moab spog nie.

In Gesbon beplan hulle

’n komplot teen Moab:

‘Kom ons beëindig

hulle voortbestaan as ’n nasie!’

Hulle sal die stad Madmen

stilmaak.

Geweld sal ook hierdie stad tref!

3Uit Goronajim klink ’n kreet op:

‘Verwoesting!

Groot vernietiging!’

4Moab se mag is gebreek!

Hoor hoe huil die kinders.

5Hulle vlugtelinge gaan op na Lugit

terwyl hulle bitterlik huil;

op pad af na Goronajim

word smartkrete gehoor

oor al die verwoesting.

6Vlug vir julle lewens!

Oorleef soos ’n wildedonkie

in die woestyn!

7Jy stel jou vertroue

op jou prestasies

en jou rykdom.

Maar hulle sal jou gevange neem.

Jou god Kemos,

sy priesters en amptenare

sal almal saam

in ballingskap gaan.

8Jou vyand sal al jou dorpe

verwoes.

Geen stad sal gespaar bly nie.

Hulle sal die valleie beskadig

en die vlaktes verwoes.

Ek, die Here, sê dit sal gebeur!

9As Moab net vlerke gehad het

sodat sy kon wegvlieg!

Moab se dorpe

sal almal verwoes word,

sodat niemand meer daarin woon nie.

10“’n Vloek rus op elkeen

wat weier

om die werk

van die Here te doen.

’n Vloek rus ook op elkeen

wat nie dié doodmaak

wat die Here

hulle beveel het

om dood te maak nie!

11“Vanaf die vroegste tye

het Moab rustig geleef.

Hulle is nog nooit

deur ’n ander volk

in ballingskap weggevoer nie.

Moab is soos ou wyn

wat kon verouder,

wat nie van houer na houer

oorgegooi is nie.

Die smaak het nie verlore

gegaan nie.”

12Maar die Here sê:

“Die tyd kom

dat Ek mense sal stuur

wat die kruike leegmaak.

As hulle dit leeggemaak het,

sal hulle die wynkruike

stukkend breek!

13Dan sal Moab skaam wees

oor Kemos,

net soos Israel ook destyds

skaam was

oor die goue kalf by Bet-El

op wie hulle vertrou het.

14“Hoe kan julle nog sê:

‘Ons is helde,

baasvegters in die oorlog?’”

15Die Here, die Almagtige,

die Koning, sê:

“Die vernietiger

sal Moab

en sy dorpe verwoes.

Van hulle beste jongmense

sal in gevegte sterf.

16’n Groot ramp sal Moab

binnekort tref.

Die land se ondergang

kom vinnig nader.

17Almal in Moab se omgewing,

begin huil

oor hierdie land.

Julle wat Moab se naam ken, sê:

‘Die septer van mag

en die staf van trots

is nou gebreek!’

18“Julle wat in Dibon bly,

klim af van julle troontjies

en kom sit in die stof.

Die vyand wat Moab vernietig,

kom ook teen Dibon veg.

Hulle het julle vestings

klaar verwoes.

19Inwoners van Aroër,

gaan staan langs die pad

en kyk wat gebeur.

Vra elke man en vrou

wat vlug,

wat probeer ontkom;

vra hulle:

‘Wat het gebeur?’

20Moab is verneder,

hulle is gebroke.

Huil en kla!

Vertel dit by die Arnonrivier

dat hulle Moab verwoes het!

21Die straf oor die dorpe op die

hoogland het aangebreek,

oor Golon, Jahas, Mefaät,

22Dibon, Nebo, Bet-Diblatajim,

23Kirjatajim, Bet-Gamul,

24Bet-Meon, Kerijot en Bosra.

Hulle sal al Moab se dorpe straf,

dié wat naby en dié wat ver is.

25Moab se mag is vernietig.

Sy mag is gebreek,” sê die Here.

26“Maak Moab dronk,

want hulle is arrogant

teenoor My, die Here.

Laat Moab in hulle braaksel rol

sodat ander hulle sal spot.

27Moab, het jy nie met Israel

die spot gedryf nie?

Het jy dan nie Israel verag

soos iemand

wat tussen diewe

betrap is nie?

28Burgers van Moab,

vlug uit julle dorpe!

Gaan woon in rotsskeure

soos duiwe

wat hulle neste maak

in die grotte.

29“Ons het gehoor

van Moab se trots en gespog.

Hulle was hoogmoedig, arrogant,

vermetel en hooghartig.

30Ek weet van Moab

se verwaandheid,” sê die Here.

“Maar al hierdie grootpratery

loop op niks uit nie,

dit is vals.

31Daarom huil Ek oor Moab.

Ek treur oor die mense

van Kir-Geres.

32Ek treur meer oor jou

as oor Jaser,

wingerd van Sibma.

Jou wingerdranke het vroeër

tot by die Dooie See gestrek,

tot by Jaser.

Maar nou het die onderdrukkers

julle kaalgestroop.

Hulle het op julle somervrugte

en druiwe toegesak.

33Blydskap en vreugde

het verdwyn

uit die boorde

en die landerye van Moab.

Ek het gesorg dat die wynpers

nie meer wyn voorsien nie.

Mense gesels ook nie meer

opgewek

terwyl hulle druiwe pars nie.

Daar is mense wat uitroep,

maar nie van blydskap nie.

34Om die waarheid te sê,

die mense gil en skreeu van angs

omdat hulle bang is.

’n Mens kan die krete hoor

van Gesbon

tot aan die ander kant

by Elale en Jahas,

van Soar af

tot by Gonorajim

en Eglat-Selisija.

Selfs die waters van Nimrim

het nou opgedroog.”

35Die Here sê: “Ek sal

’n einde maak aan Moab,

want hulle bring offers vir afgode

en brand wierook vir vals gode.

36My hart kla van smart

soos ’n fluit vir Moab

en ook vir die mense van Kir-Geres.

Want al hulle rykdom het verdwyn.

37Hulle skeer almal hulle koppe

en baarde omdat hulle rou.

Hulle maak snymerke

aan hulle hande

en dra klere van sak.

38Oral in Moab is mense in rou.

Hulle doen dit op die dakke

van hulle huise

en op die pleine.

Hulle doen dit, sê die Here,

omdat Ek Moab

gebreek het soos ’n kleipot

wat niemand meer

gebruik nie.

39Ag, hoe stukkend is hulle nie!

Hoor hoe huil hulle!

Moab is soos mense

wat die rug wegdraai

van ander

omdat hulle skaam is.

Moab se bure

dryf die spot met hulle.

Hulle skrik as hulle

al die verwoesting sien.”

40Die Here sê:

“Kyk, ’n arend duik neer

en sprei sy vlerke oor Moab.

41Hy sal die dorpe van Moab

inneem

en die vestings oorneem.

Daardie dag sal

Moab se krygsmanne so bang wees

soos ’n vrou

wat geboorte gee.

42Moab sal as ’n volk

vernietig word

omdat hulle die Here

uitgetart het.”

43Die Here sê:

“Moab, verskrikking, vanggate

en lokvalle wag op julle.

44Mense wat in angs probeer

wegvlug,

sal in ’n vanggat val.

En dié wat uit die vanggat

ontsnap,

sal in ’n valstrik gevang word.

Ek sal sorg dat julle nie ontsnap nie,

want die tyd vir julle straf

het aangebreek,”

sê die Here.

45“Die mense vlug so ver as Gesbon,

maar kom nie verder nie.

Want ’n vuur kom uit Gesbon,

die tuiste van koning Sihon.

Dit sal die hele land verteer,

ook al die opstandige mense.

46Wee jou, Moab!

Die volk van Kemos is vernietig!

Al julle kinders

is gevang

en in ballingskap

weggevoer.

47Maar eendag sal Ek weer

Moab se lot verander.

Ek, die Here, sê dit sal so wees!”

Hier eindig die oordeel oor Moab.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help