KLAAGLIEDERE 2 - Nuwe Lewende Vertaling

Die Here

se woede

1Soos ’n donker wolk

het die Here se woede

oor Jerusalem gekom.

Hy het van bo uit die hemel

die mooi stad van Israel

in die grond gedruk.

Toe Hy kwaad geword het,

het Hy selfs die tempel

nie gespaar nie.

2Die Here het sonder genade

elke huis in Israel vernietig.

In sy woede

het Hy die versterkte mure

van Jerusalem

omgestamp.

Hy het hulle koninkryk

met al sy leiers

in die aarde weggetrap.

3Hy het gekook van woede

toe Hy Israel se krag

gebreek het.

Hy het nie ’n hand gelig

om hulle te help

toe hulle vyand

hulle aangeval het nie.

Hy was soos ’n vuur

wat van alle kante af

teen Israel uitgebreek het.

4Hy het sy boog gespan

teen sy mense

asof hulle sy vyand is.

Hy het sy krag gebruik

om alles te verwoes

wat kosbaar is.

Hy het sy woede

soos vuur laat uitbreek

teen alles wat kosbaar is in

Jerusalem.

5Die Here het Israel verwoes

asof dit sy vyand is.

Al hulle blyplekke en vestings

het Hy afgebreek.

Baie hartseer en trane

het Hy in Jerusalem gebring.

6Hy het sy tempel afgebreek

asof dit ’n afdak in ’n tuin was.

Die Here het ’n einde gemaak

aan feeste en Sabbatte in Sion.

In sy verontwaardiging

het Hy koning en priester

uit die weg geruim.

7Die Here het sy eie altaar verwerp.

Hy het sy tempel verag.

Hy het die vyand toegelaat

om Jerusalem se vestingmure

af te breek.

Hulle het in die Here se huis

lawaai gemaak

asof hulle daar feesvier.

8Die Here het besluit:

Sion se mure

moet afgebreek word.

Hy het finaal besluit

om dit te verwoes.

Die versterkings en die mure

het saam ineengestort.

9Jerusalem se hekke

lê op die grond.

Die Here het hulle

uit hulle skarniere geruk.

Haar koning en haar leiers

het by vreemde volke beland.

Die wet het verdwyn.

Profete kry nie meer visioene

van die Here af nie.

10Die leiers van Jerusalem

sit stomgeslaan op die grond.

Hulle het begrafnisklere aan

en gooi grond op hulle koppe

soos hulle treur.

Die jongmeisies van Jerusalem

laat uit skaamte

hulle koppe hang.

11My oë is leeg gehuil.

Ek is bitter ontsteld as ek sien

hoe my volk in duie stort.

Kinders en babatjies val flou

en sterf in die stad se strate.

12“Ons is honger,”

sê die kinders vir hulle ma’s.

In die strate sak hulle inmekaar

soos iemand wat gewond is.

Hulle sterf in die arms

van hulle ma’s.

13Met wie kan ek jou vergelyk,

Jerusalem?

Waarmee kan ek jou smarte vergelyk,

Jerusalem?

Hoe kan ek jou troos?

Jou hartseer

is dieper as die see.

Wie sal jou ooit weer

heel kan maak?

14Jou profete het vir jou

drogbeelde opgetower.

Hulle het nie jou oortredings

sigbaar gemaak nie.

Dit sou verhoed het dat jy

weggevat word uit jou land.

Hulle het nuttelose dinge gesê

wat jou eerder

op ’n verkeerde spoor gelei het.

15Almal wat by die stad

verbyloop,

slaan hulle hande saam.

Hulle skud hulle kop

en fluit van verbasing

oor Jerusalem.

Hulle spot en sê:

“Is dit die stad wat

die mooiste plek op aarde

genoem is,

die stad wat vreugde

vir die hele wêreld bring?”

16Al jou vyande spot met jou

en fluit deur hulle tande:

“Die dag het gekom

waarvoor ons gewag het

om hierdie stad te vernietig!”

17Dit is die Here

wat dit met jou laat gebeur

wat Hy al lankal besluit het.

Hy het Jerusalem genadeloos

vernietig.

Hy het jou vyand laat lekkerkry

toe hulle jou verslaan het.

18Mure van Jerusalem,

pleit by die Here!

Laat jou trane dag en nag vloei

soos ’n rivier.

Moenie vir ’n oomblik

ophou nie.

19Staan op,

in die middel van die nag,

om jou hart soos water

voor die Here uit te stort.

Steek jou hande uit na Hom

om te pleit vir jou kinders

wat op straat

flou word van honger.

20Kyk tog, Here,

wat U maak met ons.

Moet vroue dan die kinders eet

vir wie hulle so lief is?

Moet priesters en profete

dan sterf

in die tempel van die Here?

21Jongmense en oumense

lê dood buite in die straat.

My jong meisies en jong mans

het U genadeloos

doodgemaak in u woede.

22U het oraloor mense geroep

asof hulle na ’n feesdag toe kom.

Die dag toe die Here

sy woede losgelaat het,

was daar niemand

wat ontsnap

en bly leef het nie.

My kinders wat ek grootgemaak het

met sorg,

is deur die vyand doodgemaak.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help