JEREMIA 18 - Nuwe Lewende Vertaling

Die pottebakker en die klei

1Die Here het weer vir Jeremia ’n boodskap gegee. Hy het gesê:

2“Gaan na die werkplek van die pottebakker. Daar sal Ek met jou praat.”

3Ek het toe na die werkplek van die pottebakker gegaan en hom gekry waar hy besig was om op die pottebakkerswiel te werk.

4Maar die pot waarmee hy besig was, was nie ’n sukses nie. Hy het toe die klei inmekaargedruk en weer begin om ’n nuwe pot te vorm soos hy dit wou hê.

5Die Here het toe vir my ’n boodskap gegee.

6Hy het gevra: “O Israel, kan Ek nie met julle net so maak soos die pottebakker met die klei maak nie? Kyk, soos die klei in die hande van die pottebakker, so is julle in my hande.

7Dit kan wees dat Ek in ’n stadium sê Ek sal ’n sekere nasie of ’n regering omverwerp, afbreek en vernietig.

8Maar as hulle ophou om die verkeerde dinge te doen waarvan Ek gepraat het, sal Ek hulle nie verwoes soos Ek aanvanklik wou nie.

9Aan die ander kant, as Ek sê dat Ek ’n sekere nasie of regering sal vestig, opbou, groot en sterk maak,

10maar die nasie begin verkeerde dinge doen en My nie gehoorsaam nie, sal Ek nie dan sorg dat dit nie met hulle goed gaan soos Ek van voorneme was nie?

11“Jeremia, gaan sê vir die mense van Juda en die inwoners van Jerusalem dat die Here sê: ‘Ek is besig om planne te maak om julle te straf. Moenie langer aanhou op die verkeerde koers wat julle ingeslaan het nie. Julle almal moet ophou om verkeerd te doen en begin doen wat reg is.’

12Maar die mense het geantwoord: ‘Moenie jou asem mors nie. Ons sal aanhou lewe soos ons wil en ons eie oordeel volg, al is dit verkeerd.’”

13Daarom sê die Here:

“Doen navraag onder die nasies.

Het iemand al ooit gehoor

van die afstootlike ding

wat die jong vrou Israel

gedoen het?

14Sal die sneeu ooit smelt

op die hoë dele

van die Libanon?

Sal die koue bergstrome

van die Hermonberg

ooit opdroog?

15Tog het my volk My vergeet

en offers gebring

aan nikswerd afgode

wat hulle laat struikel

op die goeie weë.

Hulle het op afdraaipaadjies,

op sondige paaie beland.

16As gevolg hiervan

sal hulle land

in ’n woesteny ontaard.

’n Mens kan maar net fluit

van verbasing.

Almal wat deurreis,

sal verstom staan

en hulle koppe skud.

17Soos die oostewind stof opwaai,

so sal Ek my volk

in alle rigtings verstrooi

voor hulle vyande.

Al sou hulle

in groot moeilikheid beland,

sal Ek my rug op hulle draai,

en My nie aan hulle steur nie.”

’n Slinkse plan teen Jeremia

18Toe het die mense gesê: “Kom ons beraam planne teen Jeremia. Ons het mos priesters wat vir ons die gebooie kan leer, wyse mense wat ons met raad kan bedien en profete wat vir ons boodskappe kan gee. Kom ons versprei slegte stories oor hom en steur ons nie aan wat hy sê nie.”

19 Here, help my!

Luister na wat die mense

teen my beplan!

20Is dit regverdig

om goed met sleg te betaal?

Hulle het ’n gat vir my gegrawe

om in te val.

Onthou U hoe ek namens

hulle by U gesmeek het

om hulle nie in u woede

te straf nie?

21Daarom,

laat hulle kinders

van honger doodgaan!

Laat hulle in oorloë sneuwel!

Laat hulle vroue

weduwees wees

sonder kinders!

Laat die mans

deur ’n epidemie omkom!

Laat die jong manne sterf

in gevegte op die slagveld!

22Laat hulle angskrete weergalm

as aanvallers

skielik op hulle toesak

terwyl hulle in hulle huise is!

Hulle het vir my ’n gat gegrawe

om in te val,

hulle het vangstrikke

vir my gestel om in te trap.

23 Here,

U weet van al hulle planne

om my dood te maak.

Moenie hulle

wat onregverdig optree, vergewe nie.

Moet ook nie hulle sondes uitvee

asof dit nooit bestaan het nie.

Laat hulle voor u oë ondergaan.

Straf hulle

terwyl U nog kwaad is

vir hulle!

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help