PSALMS 32 - Nuwe Lewende Vertaling

Die geseënde mens

1’n Dawidslied.

Geseënd is die mens

wie se opstand

vergewe is,

wie se oortredings

afgeskryf is.

2Geseënd is die mens

wie se sonde

die Here nie toereken nie,

in wie se lewe

daar geen bedrog is nie!

3Toe ek oor my sonde

stilgebly het,

het my liggaam gekwyn

van ellende,

het ek die hele dag lank

gekreun.

4Dag en nag was u hand

swaar op my.

My krag het verdwyn

soos water in somerhitte.

Sela

5Maar ek het my oortredings bely,

my sonde nie weggesteek nie.

Ek het gesê:

“Ek bely my opstand

teen die Here.”

En my sonde en oortredings

het U vergewe.

Sela

6Daarom moet al die vromes

U aanbid

in tye van nood.

Die groot vloedwaters

sal dié mens beslis nie

oorval nie.

7U is vir my ’n skuilplek.

U beskerm my teen teëspoed.

U omring my met liedere

van redding.

Sela

8Die Here sê:

“Ek sal jou onderrig

en die pad wys waarop jy

moet gaan.

Ek sal vir jou raad gee,

my oog sal op jou wees.

9Moenie redeloos wees

soos ’n perd of muil

wat met stang en toom

beheer moet word nie.”

10Baie leed tref die goddeloses,

maar onfeilbare liefde

omring húlle

wat op die Here vertrou.

11Daarom, wees bly in die Here

en juig, regverdiges!

Roep uit van vreugde,

julle almal

wat opreg is!

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help