JOB 18 - Nuwe Lewende Vertaling

Bildad praat ’n tweede keer en antwoord Job

1Bildad die Suagiet

het Job geantwoord:

2“Wanneer gaan jy ophou

om so te praat?

Praat met insig,

dan sal ons jou antwoord.

3Dink jy ons is soos diere?

Dink jy ons is baie dom?

4Jy pluk jou hare uit

in woede.

Dink jy die aarde sal tot niet gaan

ter wille van jou,

en ’n rots van die kranse afval?

5“Die waarheid is:

Die lig van die kwaaddoener

sal gedoof word.

Hulle vuur se vlam brand nie lank nie.

6Die lig in hulle tent verduister.

Die lamp sal skielik doodwaai.

7Die vaste tred

van die kwaaddoener

sal wankel.

Hulle eie planne

sal hulle ondergang wees.

8Hulle sal val in ’n vangnet

voor hulle voete,

hulle sal vasval in ’n net.

9Hulle struikel

oor ’n strik.

’n Strop trek vas om hulle.

10’n Vangtou lê begrawe

in die grond op hulle pad.

’n Tou lê opgerol in hulle pad.

11Gevaar omring die kwaaddoener

en elke tree is gevaarlik.

12Honger maak hulle swak.

Rampe wag vir hulle.

13Siekte vreet aan sy vel.

Die ergste dood verorber sy bene.

14Hulle word weggesleep

uit ’n veilige huis

en hulle buig voor die koning

van verskrikking.

15Die huis van die kwaaddoeners

sal verbrand word,

en oor alles wat hulle het,

sal swael gestrooi word.

16Hulle wortels verdroog

en hulle blare verwelk.

17Alles wat herinner

aan hulle bestaan,

sal verdwyn van die aarde.

Niemand sal hulle name onthou nie.

18Hulle sal uit die lig

in die duisternis gegooi word,

uitgedryf uit die wêreld.

19Geen kind of kleinkind,

of enige naasbestaande,

sal in hulle land oorleef nie.

20In die weste is mense

geskok oor hulle lot.

In die ooste is almal

met afgryse gevul.

21Hulle sal sê:

‘Dit was die huis

van ’n bose mens,

die plek van iemand

wat deur God verwerp is.’”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help