JESAJA 31 - Nuwe Lewende Vertaling

Dwaasheid om op Egipte te vertrou

1Verwoesting wag verseker

vir enigeen wat na Egipte

kyk vir hulp.

Hulle vertrou op Egipte

met sy baie perde

en sterk ruiters.

Pleks dat hulle vertrou

op die Heilige van Israel.

Pleks dat hulle vra

wat Hy wil hê.

2In sy groot wysheid

stuur Hy rampe.

Hy verander nie van gedagte nie.

Hy tree op teen die volk

wat bose dinge doen

en verpletter ook

hulle bondgenote.

3Want hierdie Egiptenaars

is maar net mense.

Hulle is nie God nie!

Hulle perde is maar net van vleis.

Hulle is nie gees nie!

As die Here sy hand uitsteek,

val sowel helper

as die een wat gehelp word.

Saam sal hulle sterf.

4Maar die Here het vir my gesê:

“’n Leeu, ’n jong leeu

lê by sy prooi.

Hy steur hom nie

aan die veewagters,

aan hulle geskreeu en geraas nie.

Hy hou aan met vreet.

Net so sal die Here,

die Almagtige, kom

wanneer Hy veg op Sionsberg.

5Die Here, die Almagtige,

sal oor Jerusalem waak

soos ’n voël sy nes beskerm.

Hy sal dit beskerm

en so die stad red.

Hy sal daarby verbygaan

en dit red.”

6Daarom, Israeliete,

kom terug na Hom toe,

al het julle Hom verraai.

7Daardie dag

sal elkeen van julle

sy silwer afgode

en goue beelde weggooi,

die afgode wat julle

met julle sondige hande gemaak het.

8“Die Assiriërs

sal vernietig word,

maar nie deur die swaard

van mense nie.

Die swaard van God

sal hulle tref,

en hulle sal paniekbevange wegvlug.

Hulle jong soldate

sal gevang word

en slawe gemaak word.

9Selfs hulle bevelvoerders

sal van angs rondhardloop.

Hulle sal vlug

as hulle die vlae sien aankom,”

sê die Here

wie se vlam helder brand

op die altaar in Jerusalem.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help