SPREUKE 17 - Nuwe Lewende Vertaling

1Dit is beter om in vrede

droë brood te eet

as om by ’n fees te sit

in ’n huis waar daar gestry word.

2’n Verstandige slaaf kan heers

oor ’n seun wat skande maak.

Hy sal saam met die broers

hulle pa se goed erf.

3Silwer word in vuur gesuiwer

en goud in ’n oond.

Maar die Here

toets die hart van ’n mens.

4Moeilikheidmakers luister graag

na kwaadwillige woorde.

Leuenaars gee aandag

aan bedrieglike idees.

5Iemand wat ’n arm mens spot,

beledig sy Maker.

Iemand wat lekker kry

oor ’n ander se ongeluk,

sal self nie daarvan vrykom nie.

6Kleinkinders is vir grootouers

soos ’n koning se kroon.

Pa’s is vir hulle seuns ’n trots.

7Welsprekendheid

pas nie by ’n dwaas nie.

Nog minder pas leuens

by ’n man van aansien.

8Omkoopgeskenke

sluit deure oop

vir dié wat dit gee,

dit maak hom suksesvol

oral waar hy gaan.

9Iemand wat stilbly oor onreg

teenoor hom,

bevorder liefde tussen mense.

Om gedurig daaroor te praat,

dryf vriende uitmekaar.

10Een teregwysing

bereik meer

by ’n verstandige mens

as 100 houe

oor die rug van ’n dwaas.

11Hulle wat daarop uit is

om kwaad te doen,

veroorsaak rebellie.

Hulle sal

genadeloos gestraf word.

12Dis beter om ’n beer teë te kom

wat van kleintjies beroof is,

as om ’n dwaas

met sy sotheid te konfronteer.

13As jy goed met kwaad vergeld,

sal kwaad nooit

uit jou huis verdwyn nie.

14Om rusie aan die gang te sit,

is soos om ’n sluis oop te trek.

Staak liewer die stryery

voor die vloed jou tref.

15Die Here verafsku twee dinge:

iemand wat die skuldige

onskuldig verklaar;

en iemand wat onskuldige mense

skuldig verklaar.

16Dit het geen nut

om vir ’n dwaas geld te gee

om wysheid te koop nie.

Hy het geen behoefte

aan wysheid nie.

17Op ’n vriend se lojaliteit

kan jy altyd reken.

Jou broer is gebore

om jou te help

wanneer daar probleme is.

18Iemand wat borg staan,

het nie verstand nie.

Net só ’n persoon sal instaan

vir die skuld van sy naaste.

19Iemand wat bakleierig is,

hou van sonde.

Iemand wat arrogant is,

soek sy eie ondergang.

20’n Huigelagtige mens

sal nie voorspoed hê nie.

Hy wat die waarheid verdraai,

stort homself in die ongeluk.

21Die pa van ’n dwaas

ervaar baie hartseer.

Daar is geen vreugde vir ’n pa

as sy seun ’n dwaas is nie.

22’n Vrolike mens

is soos goeie medisyne.

’n Neerslagtige mens

tap jou krag.

23’n Goddelose mens

aanvaar omkoopgeskenke

en verdraai so die reg.

24’n Verstandige mens

hou wysheid goed in die oog.

’n Dwase mens se gedagtes

dwaal doelloos rond.

25’n Onverstandige seun

is vir sy pa ’n ergernis.

Vir sy ma is hy ’n bitter verdriet.

26Dis verkeerd om ’n onskuldige

’n boete op te lê,

of om ’n persoon van aansien

te straf

omdat hy eerlik is.

27Iemand wat kennis het,

praat nie baie nie.

Iemand met insig

bly kalm.

28Wanneer ’n dwaas stilbly,

kan dit lyk of hy wys is;

en as hy sy mond toehou,

lyk hy soos iemand met insig.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help