JEREMIA 22 - Nuwe Lewende Vertaling

’n Boodskap vir die konings van Juda

1Die Here het gesê: “Gaan na die paleis en dra hierdie boodskap oor aan die koning van Juda. Sê vir hom:

2‘Luister, o koning van Juda, u wat ’n koning is uit die geslagslyn van Dawid. Die Here het ’n boodskap vir u, u amptenare en die mense van Jerusalem.

3“‘Die Here sê: Julle moet eerlik en regverdig optree. Doen wat reg is. Julle moet ook mense help wat deur ander bedrieg is. Beskerm hulle teen hierdie bedrieërs. Julle mag ook nie vreemdelinge, weeskinders en weduwees mishandel nie. Hou ook op om onskuldige mense te vermoor!

4As julle doen wat Ek sê, sal daar altyd iemand uit Dawid se nageslag koning in Jerusalem wees. Die konings sal in koetse en op perde deur die paleis se hekke ry, saam met hulle amptenare en onderdane.

5Maar as julle hierdie waarskuwing ignoreer, sal hierdie paleis, so waar as wat Ek die Here is, in ’n bouval verander, sê die Here.’”

Die lot van die paleis van Juda

6Die Here sê ook oor die koningshuis

van Juda:

“Jy is vir My

soos vrugbare Gilead,

soos die groen woude van Libanon.

Maar Ek maak dit

’n woestyn,

’n stad

sonder enige inwoners.

7Ek sal mense aanstel

wat sal kom

en dié plek

met hulle gereedskap afbreek.

Hulle sal die pragtige sederbalke

uitruk en in die vuur gooi.

8“Baie mense van ander nasies sal hier verbygaan en vir mekaar sê: ‘Hoekom het die Here so ’n indrukwekkende stad soos hierdie verwoes?’

9“Dan sal hulle antwoord: ‘Omdat hulle die verbond met die Here hulle God verbreek het. Hulle het voor vreemde gode neergebuig en hulle aanbid.’”

’n Boodskap oor Joahas

10Moenie oor koning Josia

hartseer wees

omdat hy dood is nie.

Moet ook nie oor hom huil nie,

maar huil liewer

oor koning Joahas

wat uit sy land weggevat is!

Want hy sal nooit weer terugkom nie.

Hy sal sy geboorteland

nooit weer sien nie.

11Eers was Josia koning van Juda. Sy seun Joahas het hom opgevolg, maar hulle het hom hiervandaan weggevoer. Die Here sê: “Hy sal nooit weer hierheen terugkom nie.

12Hy sal sterf in die land waar hy ’n gevangene is. Hy sal sy geboorteland nooit weer sien nie.”

’n Boodskap oor Jojakim

13“Ellende wag vir Jojakim,

wat sy paleis met onreg bou,

en sy bovertrekke met kullery.

Hy laat mense verniet werk,

hy betaal hulle nie.

14Hy sê:

‘Ek sal vir my ’n spogpaleis bou

met groot kamers

en baie vensters,

panele van sederhout,

en die huis rooi verf.’

15Maak dit van jou ’n koning

omdat jy baie sederhout het?

Jou pa het niks kortgekom nie,

want hy was altyd

eerlik en regverdig.

Daarom het dit goed gegaan

met hom.

16Hy het gesorg vir

arm en behoeftige mense,

dat hulle regverdige behandeling kry.

Daarom het dit met hom

goed gegaan.

Is dit nie wat dit beteken

om My te ken nie?”

vra die Here.

17“Maar nie jy nie!

Jy wou net altyd kyk

wat jy op ’n oneerlike manier

in die hande kan kry!

Jy het onskuldige mense

vermoor

of met geweld onderdruk.”

18Daarom sê die Here oor koning Josia se seun Jojakim, koning van Juda:

“Sy familie sal nie oor hom huil

wanneer hy doodgaan nie.

En sy onderdane sal nie eers omgee

dat hy dood is nie.

19Hulle sal hom begrawe

soos ’n donkie.

Hulle sal sy lyk

by Jerusalem se hekke uitsleep

en dit buite die stad los!”

’n Boodskap oor die koninginmoeder

20“Gaan op na die Libanon en skreeu,

gaan roep uit in Basan,

huil in die streke oos van die Jordaan,

want al jou bondgenote is vernietig.

21Toe jy voorspoed beleef het,

het Ek jou probeer waarsku,

maar jy het gesê:

‘Ek sal nie luister nie!’

Van kleintyd af

was dit al jou ingesteldheid

om nie na My te luister nie!

22Nou sal al jou leiers verdwyn

asof die wind hulle weggewaai het.

Al jou vriende is gevang en weggevoer.

Ten einde laaste sal jy

jou boosheid raaksien

en skaam kry daaroor.

23O inwoners van Libanon,

julle woon tussen die seders.

Maar binnekort sal julle gil

van angs en vrees.

Julle sal angs ervaar

soos ’n vrou wat geboorte gee.”

’n Boodskap vir Jojagin

24Die Here het vir koning Jojagin van Juda, seun van Jojakim gesê: “So seker as wat Ek lewe, Ek sal van jou ontslae raak. Al is jy soos ’n seëlring aan my vinger, Ek sal jou afpluk.

25Ek weet jy is bang vir hulle wat jou wil doodmaak. Ek sal jou aan hulle oorgee. Ek sal jou laat val in die hande van koning Nebukadnesar en die magtige Babiloniese leërs.

26Ek sal jou en jou ma uit Juda verban na ’n land waar nie een van julle twee gebore is nie. Daar sal julle sterf.

27Julle sal nooit weer na julle eie land terugkeer nie, al wil julle hoe graag.

28“Hoekom is hierdie man Jojagin

soos ’n stukkende kleipot

wat almal dink niks werd is nie?

Hoekom is hy en sy kinders

weggevoer na ’n land

wat hulle nie ken nie?

29O land, land, land!

Luister na die boodskap

van die Here!

30Dit is wat die Here sê:

Teken dit aan

dat hierdie man kinderloos is,

want nie een van sy nageslag

sal koning van Juda wees nie.

Die koningslyn van Dawid

sal hulle nie voortsit nie!”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help