JOB 4 - Nuwe Lewende Vertaling

Elifas reageer die eerste keer op Job

1Elifas die Temaniet

het Job geantwoord:

2“Sal jy geduldig kan wees

sodat ek iets vir jou kan sê?

Geen mens kan stilbly nie.

3Jy het self baie mense

wat moed verloor het,

moed ingepraat.

Jy het swakkes ondersteun.

4Jou woorde het

almal wat geval het, versterk.

Jy het mense wat twyfel,

regop gehou.

5En noudat die moeilikheid

oor jou gekom het,

is jy verslae,

noudat dit jou getref het, is jy

gebroke.

6Gee dit dan nie vir jou hoop

dat jy God aanbid het nie?

Moet jy nie juis nou glo

dat God sorg

vir mense wat Hom dien nie?

7“Dink daaraan:

Het onskuldige mense

ooit vergaan?

Wanneer is die mens

wat God getrou dien,

al ooit vernietig?

8My ondervinding is

dat mense

wat moeilikheid plant

en die bose saai,

dit ook sal oes.

9Deur die asem van God

het Hy hulle vernietig.

Deur sy woede vergaan hulle.

10Die gebrul van die leeu,

die gegrom van die roofdier,

het stilgeraak.

Die tande van die jong leeu

is uitgeslaan.

11Sonder prooi

gaan die leeu dood,

en die welpies

loop verlore rond.

12“Ek het dit eenmaal

in die geheim gehoor,

asof iemand

dit in my oor fluister.

13Een nag, terwyl ander slaap,

het ek dit gesien

in ’n gesig wat my verskrik het.

14Ek was bang.

Ek het gebewe van die skok.

15’n Windvlaag

het by my verby getrek,

en die hare van my lyf

het orent gaan staan.

16Iets het voor my gestaan,

maar ek kon nie uitmaak

watter vorm dit het nie.

Iets het voor my verskyn

en ’n veraf stem het gepraat:

17‘Kan ’n sterflike mens

regverdig wees

voor sy Maker,

en ’n blote mens

rein wees voor sy Skepper?’

18Selfs sy eie hemelse dienaars

kan God nie vertrou nie.

Selfs sy boodskappers

is voor Hom vol gebreke.

19Hoe kan Hy ons vertrou

wat van klei gemaak is?

Ons is van stof gemaak,

en word papgedruk,

so maklik soos ’n mot.

20Tussen oggend en aand

word hulle vernietig,

onopsigtelik

vergaan hulle vir altyd.

21Hulle tentpenne word uitgetrek,

en hulle sterf

sonder om wysheid te leer.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help