JESAJA 40 - Nuwe Lewende Vertaling

Troos vir God se volk

1“Troos, troos my volk,”

sê julle God.

2“Praat sag met Jerusalem.

Sê vir hom

sy hartseerdae is verby.

Sy sondes is vergewe.

Die Here het hom klaar gestraf

vir al sy sondes.”

3Luister! Ek hoor die stem

van iemand wat roep:

“Bou ’n grootpad vir die Here

deur die woestyn.

Maak ’n reguit pad vir ons God

deur die wildernis.

4Vul die valleie op!

Maak elke berg en heuwel gelyk,

elke ruwe plek ’n gelykte,

elke koppie ’n vlakte.

5Dan sal die heerlikheid

van die Here

bekend word

en alle mense sal dit sien.

Die Here self het so gesê.”

6’n Stem sê:

“Roep!”

Ek het gevra:

“Wat moet ek roep?”

“Roep uit:

Alle mense is soos gras.

Hulle bekoorlikheid

is soos blomme van die veld.

7Gras verdor

en blomme verwelk

as die Here sy asem

daaroor laat waai.

So is dit ook met mense.

8Gras verdor,

blomme verwelk,

maar die woord van God

bly vir altyd.”

9Boodskapper van goeie nuus,

roep vir die tempelberg

van die bergpieke af!

Boodskapper van goeie tyding,

roep hard vir Jerusalem!

Moenie bang wees nie.

Sê vir die stede van Juda:

“Hier is jou God!”

10Die oppermagtige Here

kom met heerlike krag

en regeer met mag.

Kyk, Hy bring

sy beloning saam.

Dit is by Hom.

11Hy versorg sy kudde

soos ’n herder.

Die lammers maak Hy bymekaar

in sy arms,

en dra hulle naby sy hart.

Skaapooie met lammers

versorg Hy.

Die Here

het geen gelyke nie

12Wie anders het die oseane

in sy hand gehou?

Wie het die hemel afgemeet

met die breedte van sy hand?

Wie het die grond van die aarde

met ’n maatemmer gemeet,

of het die berge en die heuwels

met ’n skaal geweeg?

13Wie kan

die Gees van die Here advies gee?

Wie weet genoeg

om Hom raad te gee

of Hom te leer?

14Het die Here al ooit raad

van ander nodig gehad?

Het Hy nodig dat iemand

Hom vertel wat die goeie is

of wat die beste is?

15Al die nasies van die wêreld

is vir Hom

soos ’n druppel in ’n emmer,

soos stof op ’n skaal.

Hy tel die eilande op

asof hulle geen gewig het nie.

16Die Libanon se hout

is nie genoeg vir offers,

en sy diere nie voldoende

vir brandoffers nie.

17Die nasies van die wêreld

is vir Hom soos niks.

In sy oë is hulle waardeloos,

asof hulle nie bestaan nie.

18Met wie kan julle

God dan vergelyk?

Met watter beeld sal julle

Hom kan vergelyk?

19Kan jy Hom vergelyk met

die afgodsbeeld?

Dis deur ’n vakman gemaak,

’n goudsmid

het dit met goud oorgetrek

en met silwerkettinkies versier.

20Wie te arm is vir so ’n offer

aan sy god,

kies hout wat nie vrot nie

en soek vir hom ’n bedrewe

ambagsman om vir hom ’n beeld te

maak wat nie omval nie.

21Weet julle dan nie?

Verstaan julle nie?

Is dit dan nie in die begin

aan julle vertel nie?

Weet julle nie Wie

die aarde gegrondves het nie?

22God sit op sy troon

bokant die hemelkoepel.

Die mense op aarde

lyk vir Hom soos sprinkane.

Hy sprei die hemel uit

soos ’n gordyn,

Hy sprei dit oop soos ’n tent

om in te woon.

23Hy oordeel oor vername mense

en verlaag regeerders

van die wêreld

asof hulle nie bestaan nie.

24Hulle is skaars geplant,

skaars gesaai,

het skaars wortelgeskiet,

of Hy blaas oor hulle

en hulle verwelk

en ’n stormwind waai hulle weg

net soos kaf.

25“Met wie sal julle My

vergelyk?

Wie is my gelyke?”

vra die Heilige Een.

26Kyk op na die hemel.

Wie het die sterre gemaak?

Hy laat hulle

soos ’n leërmag uitmarsjeer,

die een ster na die ander,

en roep elkeen by sy naam.

Met sy groot krag en mag

sorg Hy dat nie een wegraak

of verdwaal nie.

27Israel, hoe kan jy dan sê:

“Die Here sien nie

my moeilikheid raak nie”?

Hoe kan jy beweer:

“God weier

om na my saak te luister”?

28Het jy nog nooit gehoor

of verstaan nie?

Weet jy nie dat die Here

van altyd af God is nie?

Hy is die Skepper

van die hele aarde.

Hy word nie moeg of gedaan nie

en niemand kan die dieptes

van sy insig meet nie.

29Hy gee krag

aan dié wat moeg is.

Hy maak die kragteloses sterk.

30Selfs jongmense raak uitgeput

en afgemat.

Baie jongmense struikel

en val.

31Maar dié wat hulle hoop

op die Here stel,

sal nuwe krag kry.

Hulle vlieg hoog,

soos arende.

Hulle sal hardloop

en nie moeg word nie.

Hulle sal loop

en nooit vermoeid word nie.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help