JESAJA 57 - Nuwe Lewende Vertaling

1Die regverdige gaan dood

en niemand neem dit ter harte nie.

Die getroues kom om

voor hulle tyd.

En niemand verstaan

dat regverdiges sterf

om aan boosheid te ontkom nie.

2Hulle wat opreg leef,

gaan na waar daar vrede is,

en vind rus in die graf.

Afgodsdiens veroordeel

3“Maar kom hier,

julle kinders van towenaars,

julle afstammelinge

van egbrekers en prostitute!

4Met wie spot julle?

Vir wie lag julle

en steek julle tong uit?

Julle is mos kinders

van sondaars,

die afstammelinge van leuenaars!

5Julle brand van wellus

onder elke groen boom.

Julle slag julle kinders

in elke vallei,

onder elke oorhangende rots.

6Julle gode is die gladde rotse

in die valleie.

Vir hulle het julle drankoffers

uitgegiet

en graanoffers aangebied.

Moet ek tevrede daarmee wees?

7Op hoë berge en heuwels

het jy ’n bed ingerig

vir jou onsedelikhede

deur afgode te aanbid.

Jy het daarheen opgegaan

om offers te bring.

8Agter toe deure

het jy jou afgodsbeelde opgestel.

Jy was ontrou aan My

en het jou kaal uitgetrek.

Jy het op die bed geklim,

en vir hulle plek gemaak.

Jy het ’n verbintenis

met jou bedmaats gemaak

en hulle naaktheid geniet.

9Jy het olyfolie en parfuum

as offers vir Molek gegee.

Jy het boodskappers

na ver plekke gestuur,

selfs tot in die doderyk.

10Jy het moeg geword

van jou soektog,

maar jy het nooit erken:

‘Dit is sinloos!’ nie.

Jy het jouself weer versterk,

en dan maar net aangegaan.

11“Hoekom was jy banger vir hulle

as vir My?

Hoekom onthou jy My nie meer nie

en dink jy nie meer

aan My nie?

Is dit omdat Ek lank stilgebly het,

dat jy My nie meer dien nie?

12Daarom sal Ek jou optrede

ontbloot.

Jou gode sal jou nie kan help nie.

13As jy roep om hulp,

mag jou klomp afgode jou red!

Maar ’n wind sal hulle wegwaai

en hulle omstamp.

Wie egter tot My sy toevlug neem,

sal die hele land erf

en my heilige berg besit.”

Ek sal hulle genees

14Dan sal die Here sê:

“Herbou die pad!

Verwyder die rotse en klippe

uit die pad van my volk!”

15So sê die hoë, verhewe Een

wat vir altyd bestaan,

wie se Naam die Heilige is:

“Ek woon in ’n hoë, heilige plek,

maar ook saam met die mens

wat berouvol en nederig is.

Ek gee nuwe krag

aan dié wat nederig is

en aan dié wat verdruk word,

en nuwe krag

aan dié wat berouvol is.

16Want Ek kla nie

vir altyd aan nie

en bly nie

vir lank kwaad nie.

Want dan sou dit

die einde wees van

die mens wat Ek geskep het

en aan wie Ek die lewensasem

gegee het.

17Ek was baie kwaad

oor my volk se sonde en hebsug.

Ek het hulle gestraf

en Myself in woede onttrek

aan hulle.

Maar hulle het net bloot aangehou

om te sondig.

18Ek het gesien wat hulle doen,

maar nogtans sal Ek

hulle gesond maak!

Ek sal hulle begelei

en dié wat treur, vertroos.

19Dan sal hulle

My weer loof.

En hulle sal vrede hê,

almal van ver en naby.

Want Ek sal hulle almal genees,”

sê die Here.

20“Maar die goddeloses

is soos die onstuimige see.

Dit kom nooit tot rus nie.

Die golwe hou aan

om slyk en modder uit te stoot.

21Daar is geen vrede

vir die bose mense nie,”

sê my God.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help