MATTEUS 17 - Nuwe Lewende Vertaling

Jesus word verheerlik

1Ses dae later neem Jesus vir Petrus en Jakobus en sy broer Johannes saam met Hom en vat hulle teen ’n hoë berg uit waar hulle alleen was.

2En daar, terwyl hulle na Jesus kyk, het sy voorkoms verander. Sy gesig het begin straal soos die son. Sy klere het skitterwit geword.

3En, wonderlik, toe verskyn Moses en Elia voor hulle en voer gesprek met Jesus.

4Petrus sê toe vir Jesus: “Here, dis wonderlik om hier te wees! As U wil, sal ek hier drie skuilings oprig: vir U een, vir Moses een en een vir Elia.”

5Maar terwyl hy nog praat, oordek ’n helderglansende wolk hulle, en daar kom ’n stem uit die wolk wat sê: “Hý is my geliefde Seun. Hy is ’n Kind so na my hart. Doen wat Hy vir julle sê.”

6Toe hulle dit hoor, het die dissipels plat op die grond neergeval. Hulle het groot geskrik.

7Daarop kom Jesus na hulle toe en sit sy hand gerusstellend op hulle: “Staan gerus maar op; moenie bang wees nie.”

8Toe hulle opkyk, sien hulle niemand anders meer daar nie, net vir Jesus alleen.

9Terwyl hulle van die berg afklim, het Jesus hulle beveel: “Julle moet vir niemand vertel wat julle gesien het nie, totdat Ek, die Seun van die Mens, uit die dood opgewek word.”

10Sy dissipels vra Hom toe: “Hoe sê die skrifkenners dan dat Elia eers moet kom voordat die Messias kom?”

11Waarop Jesus antwoord: “Elia kom inderdaad eers om alles in orde te bring.

12Maar Ek verseker julle, hy het al klaar gekom; tog het hulle hom nie herken nie, maar baie sleg behandel. Net so moet Ek, die Seun van die Mens, ook onder hulle ly.”

13Toe het die dissipels verstaan dat Hy met hulle oor Johannes die Doper gepraat het.

Jesus maak ’n seun, deur ’n bose gees besete, gesond

14Toe hulle by die skare aan die voet van die berg kom, nader iemand vir Jesus en val voor Hom neer.

15Hy sê: “Here, ontferm U oor my seun! Hy kry epileptiese aanvalle en hy ly verskriklik. Baie maal val hy in die vuur of in die water.

16Ek het hom na u dissipels toe gebring, maar hulle kon hom nie gesond maak nie.”

17Jesus se reaksie was: “O julle ongelowige en ontaarde mense! Hoe lank sal Ek dit nog by julle uithou? Bring die seun hier.”

18Daarop het Jesus die bose gees in die seun skerp aangespreek en dit het hom verlaat. Onmiddellik was die kind gesond.

19Agterna het die dissipels Jesus privaat gevra: “Waarom kon ons nie die bose gees uitdryf nie?”

20“Julle geloof was nie sterk genoeg nie,” was Jesus se antwoord. “Dít verseker Ek julle, as julle geloof selfs so klein soos ’n mosterdsaadjie was, sou julle vir hierdie berg sê: ‘Skuif soontoe,’ en hy sal dit doen. Ja, niks sal vir julle onmoontlik wees nie.”

Jesus kondig sy komende dood vir die tweede keer aan

22Weer terug in Galilea het Jesus vir hulle gesê: “God het bepaal dat die Seun van die Mens oorgegee moet word in die hande van mense.

23Hulle sal Hom doodmaak, maar God sal Hom op die derde dag weer opwek.” En die dissipels was baie geskok om dit te hoor.

Jesus betaal die tempelbelasting

24By hulle aankoms in Kapernaum, het die beamptes wat die tempelbelasting invorder vir Petrus genader met die woorde: “Betaal julle leermeester dan nie die tempelbelasting nie?”

25Hy antwoord toe: “Natuurlik betaal Hy dit!” Toe hy tuiskom om met Jesus daaroor te praat, spring Jesus hom voor en vra: “Petrus, hoe sou jy sê, van wie vorder die konings van hierdie wêreld tolgeld en belastings in – van hulle eie mense of van die buitelanders wat hulle verslaan het?”

26Toe hy antwoord: “Van die buitelanders,” sê Jesus vir hom: “Dan is hulle eie mense mos vrygestel.

27Maar om hulle liewer nie aanstoot te gee nie – gaan jy af see toe en gooi jou lyn in. Die eerste vis wat jy uittrek – maak sy bek oop en jy sal ’n muntstuk daarin kry. Vat dit en dan gaan betaal jy ons al twee se belasting daarmee.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help