JESAJA 11 - Nuwe Lewende Vertaling

’n Takkie van Dawid se familie

1Uit die stomp

van Dawid se familie

sal ’n takkie groei,

’n tak wat vrugte sal dra.

2Die Gees van die Here

sal op hom rus,

die Gees wat wysheid

en insig bring,

die Gees wat raad

en krag bring,

die Gees wat kennis

en eerbied vir die Here bring.

3Hy sal sy vreugde daarin vind

om die Here te gehoorsaam.

Hy sal nie regspreek

volgens uiterlike skyn

of op vals getuienis

of hoorsê nie.

4Hy sal die armes en verdruktes

beskerm.

Teen die bose mense

sal hy optree

en met die asem van sy mond

hulle om die lewe bring.

5Hy sal regverdigheid aantrek,

en ook waarheid.

6Daardie dag

sal die wolf die gas

van die lam

wees.

Die luiperd en die bokkie

sal langs mekaar lê.

Kalwers en vetgemaakte beeste

sal veilig by leeus wees,

en ’n kindjie sal vir almal sorg.

7Vee sal tussen bere wei,

hulle kleintjies sal by mekaar lê

en leeus sal gras vreet soos beeste.

8Babas sal veilig

tussen giftige slange speel.

’n Kindjie sal sy hand uitsteek

na giftige slange

en niks oorkom.

9Niks of niemand sal op my heilige berg verwoesting of kwaad aanrig nie. Soos die water die see vol maak, so sal die aarde vol wees van mense wat die Here ken.

10Daardie dag sal die erfgenaam van Dawid se troon ’n vlag opsteek wat vir die hele wêreld redding sal bring. Die nasies sal na hom toe kom, want die land waar hy bly, sal ’n heerlike plek wees.

11Op daardie dag sal die Here vir die tweede keer ’n oorblyfsel van sy volk terugbring, almal wat oorgebly het uit Assirië, Egipte, Patros, Etiopië, Elam, Babilonië, Hamat en die kuslande.

12Hy sal ’n vlag tussen die nasies oprig en die ballinge van Israel sal van die uithoeke van die aarde daarheen kom.

13Dan sal die naywer tussen Israel en Juda verdwyn. Hulle sal nie meer met mekaar baklei nie. Israel sal nie weer op Juda jaloers wees nie, en Juda sal nie meer vyandig wees teenoor Israel nie.

14Saam sal hulle die Filistyne in die weste aanval. En saam sal hulle die nasies in die ooste aanval en hulle plunder. Hulle sal die lande van die Edomiete, Moabiete en Ammoniete verower.

15Die Here sal die Egiptiese see laat opdroog. Hy sal ’n skroeiende wind oor die Eufraat laat waai en ’n sterk wind stuur wat dit in sewe kanale sal verdeel waar ’n mens maklik kan deurloop.

16Hy sal ’n hoofpad maak vir die oorblyfsel wat nog in Assirië is, net soos vir Israel toe hulle uit Egipte teruggekom het.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help