JOB 31 - Nuwe Lewende Vertaling

Job: Ek het nie sonde gedoen nie

1“Ek het myself belowe

dat ek nooit

na ’n jong meisie sal kyk

om haar te begeer nie.

2Wat het God daarbo

vir ons gekies?

Wat is ons erfdeel

van die Almagtige?

3Dit is ellende

vir die kwaaddoener

en rampe vir die boosdoener.

4Sien Hy nie hoe ek optree nie?

Tel Hy nie elke tree

wat ek gee nie?

5“Het ek ooit vir iemand gelieg,

of iemand bedrieg?

6Laat God my dan weeg

met die regte maatstaf.

Hy ken my onskuld.

7Het ek van die regte pad

afgedwaal?

Of het ek iets begeer

wat ek gesien het?

Is ek skuldig

aan enige ander sonde?

8Laat iemand anders dan oes

wat ek geplant het

en alles uitpluk

wat ek gesaai het.

9“As ek verlei is deur ’n vrou

of my buurman se vrou

begeer het,

10mag my vrou

aan ’n ander behoort

en ander mans by haar slaap.

11Want wellus

is ’n skandelike sonde,

’n misdaad

wat gestraf moet word.

12Dit is ’n vernietigende vuur.

Dit sou alles verwoes het

wat ek besit.

13“As ek onregverdig was

teenoor my manlike en vroulike

werkers,

of geweier het

om na hulle te luister,

14hoe sou ek God

in die oë kon kyk

wanneer Hy my tot

verantwoording roep?

Wat sou ek antwoord

as Hy my daaroor ondervra?

15Want Hy het my

en my werkers gemaak.

Hy is ons almal se Skepper.

16“Het ek geweier

om die armes te help?

Of die hoop vernietig

van die weduwees

wat na my gekyk het vir hulp?

17Was ek suinig

met my kos

en het ek geweier om dit te deel

met honger weeskinders?

18Nee! Van jongs af

sorg ek vir weeskinders

soos ’n pa.

My hele lewe lank

gee ek om vir weduwees.

19Waar ek ook al mense

dakloos en ’n arm man

sonder klere gesien het,

20het hulle my geprys

omdat ek vir hulle

wolklere gegee het

om hulle warm te hou.

21As ek gewelddadig was

teenoor ’n weeskind

omdat ek gedink het

ek sou daarmee wegkom –

22mag my arm dan uit sy potjie

gedraai word!

Mag my arm van my skouer

afgeruk word!

23Dit sou beter wees

as om onder die oordeel

van God te kom.

Want as ek

teen die Allerhoogste

moet staan,

watter hoop is daar vir my?

24“Het ek op geld vertrou,

of gedink ek is veilig

omdat ek baie goud besit?

25Hang my geluk af

van my rykdom

en alles wat ek besit?

26Het ek ooit gekyk

na die son wat skyn,

of na die maan se silwer baan

deur die ruimte,

27en my heimlik laat verlei

om hulle te aanbid?

28As dit so was, sou regters

my gestraf het,

want ek sou die God van die hemel

verloën het.

29“Het ek ooit gejuig

by die ondergang

van my vyande?

Of was ek bly

as hulle skade gely het?

30Nee, ek het nooit gesondig

deur enigiemand te vervloek

of iemand te verwens nie.

31My werkers het nooit gesê

dat ek iemand laat honger ly nie.

32Ek het nooit ’n vreemdeling

weggewys nie.

My deur het altyd

vir almal oopgestaan.

33Het ek ooit probeer

om my sondes weg te steek

soos mense graag doen?

Het ek my ongeregtighede

probeer ontken?

34Het ek stilgebly daaroor

en nie buitentoe gegaan nie

omdat ek bang was

dat mense op my sou neersien

en my verag?

35“As daar maar net iemand was

wat na my wou luister

en my kant van die saak

wou sien!

Kyk, ek teken my naam

as my verdediging.

Laat die Almagtige

my wys dat ek verkeerd is.

Laat my Aanklaer

die klag teen my uitskryf!

36Dan sou ek die aanklag

teenstaan.

Ek sou dit dra soos ’n kroon.

37Want ek sou Hom presies sê

wat ek gedoen het.

Ek kan voor Hom staan,

soos ’n prins.

38“As die grond wat ek bewerk

my aankla,

en al die ploegvore saam ween,

39as ek dit wat daaruit

opgekom het, geëet het

sonder om te betaal,

of die eienaars vermoor het,

40laat daar dan dissels groei

op daardie land

in die plek van koring,

en onkruid

in die plek van gort.”

Hier eindig Job se woorde.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help