OBADJA 1 - Nuwe Lewende Vertaling

1Dit is wat Obadja gesien het: Die oppermagtige Here sê die volgende oor die land Edom.

’n Boodskap van oordeel oor Edom

Ons het ’n boodskap gehoor wat van die Here af kom. ’n Verteenwoordiger is na die nasies gestuur om te sê: “Maak julle almal slaggereed! Kry julle leërs bymekaar en laat ons Edom aanval!”

2Die Here sê: “Edom, Ek maak jou

’n klein volkie onder die nasies.

Jy sal niksseggend en veragtelik wees.

3Jy is hooghartig

omdat jy in ’n klipvesting woon

en jou blyplek hoog in die berge is.

Vol hoogmoed vra jy:

‘Wie sal ons ooit hierbo kan bereik?’

Maar moenie jouself bedrieg nie!

4“Ek, die Here, sê:

Al sweef jy so hoog soos arende

en bou jy neste tussen die sterre,

Ek sal jou met ’n slag

aarde toe bring.

5As diewe in die nag inbreek,

vat hulle nie alles nie.

Die mense wat druiwe pluk,

los van die trossies oor.

Maar jou vyande

sal jou heeltemal uitwis!

6Elke hoek en kant van Edom

sal deursoek word.

Alles wat waardevol is,

sal gevat word.

7Al jou bondgenote sal teen jou draai.

Hulle sal help

om jou uit jou eie land te verjaag.

Hulle maak beloftes van vrede

terwyl hulle jou ondergang beplan.

Mense wat van jou afhanklik was,

sal vir jou ’n lokval stel

sonder dat jy enigiets vermoed.”

8Die Here sê:

“Die dag as dit gebeur,

sal daar nie meer

’n enkele verstandige mens

in die hele Edom oor wees nie!

Ek sal al die slim

en verstandige mense

uitwis in die berggebiede van

Edom.

9Jou dapper soldate uit Teman

sal vreesbevange wees

en al die mense

bo in die berge van Edom

sal doodgemaak word.”

Die rede vir Edom se straf

10“Hoekom sal dit gebeur?

Omdat jy gewelddadig was

teenoor Israel

wat eintlik jou bloedverwante is.

Die vernedering daaroor

sal jy vir altyd moet dra.

Jy sal heeltemal uitgewis word.

11Toe Israel ’n tyd beleef het

toe hulp regtig nodig was,

het jy jou bloedverwante

in die steek gelaat.

Jy het afsydig gestaan en toekyk

toe vreemde invallers

Jerusalem binnegeval het.

Jy het nie ’n vinger gelig om te help

toe hulle rykdom weggedra

en lootjies getrek het

om die stad te verdeel nie.

Jy het soos een van Israel se vyande

opgetree.

12Jy het verkeerd opgetree!

Jy moes jou nie verlekker het

toe hulle jou bloedverwante

in ballingskap weggevoer het

na verafgeleë lande nie.

Jy moes nie so bly gewees het

oor die ongeluk

wat hulle getref het nie.

Dit was nie vir jou nodig

om met minagting

op hulle neer te sien

oor hulle ellende nie.

13Jy moes nie

die poorte van my volk ingeval het

terwyl so ’n groot ramp

hulle getref het nie.

Jy moes nie

met genoegdoening toegekyk het

terwyl hulle ondergegaan het nie.

Jy moes nie

hulle goed gesteel het

toe so ’n ramp hulle getref het nie.

14Jy moes nie

by die kruisings gaan staan het

om die vlugtelinge dood te maak nie.

Jy moes ook nie

in hierdie rampspoedige tyd

die oorlewendes van die aanval

aan hulle vyande uitgelewer het nie.”

Edom verwoes, Israel herstel

15“Die dag is naby dat Ek, die Here,

met die goddelose nasies

sal afreken!

Edom, soos jy met ander gemaak het,

so sal met jou gedoen word.

Jy sal terugbetaal word

vir alles wat jy

aan ander gedoen het.

16My volk moes op my heilige berg

die beker van straf drink.

Net so sal jy

en die nasies in die omgewing

die straf moet drink

wat Ek op julle gaan uitstort.

Die nasies sal drink en rondslinger,

totaal uit die geskiedenis verdwyn.

Dit sal wees asof julle

nooit bestaan het nie.

17“Jerusalem sal

’n toevlugsoord wees.

Dit sal ’n heilige plek wees.

Die mense van Israel

sal weer terugkom

om hulle erfdeel op te eis.

18“Ek, die Here, sê:

Israel sal wees soos vuur

en Josef se nageslag

soos ’n vlam wat brand.

Edom sal wees

soos ’n veld vol droë gras.

Die vuur sal versprei

soos ’n veldbrand en alles verteer.

Niemand van die mense van Edom

sal oorleef nie.

19Die mense wat in die Suidland bly,

sal die berglande van Edom beset.

Dié wat kom van die heuwels

van Juda

sal die Filistyne se kusvlakte kry.

Nog ander

sal die velde van Efraim oorneem

en ook dié van Samaria.

Die mense van Benjamin

sal die Gileadgebied inpalm.

20Die mense van Israel

sal uit ballingskap

na hulle land toe terugkom.

Hulle sal Kanaän

tot so ver noord soos Sarfat

in besit neem.

Mense wat uit Jerusalem weggevat is

en nou ballinge is in Sefarad,

sal na hulle land toe terugkom

en weer kom woon

in die dorpe van die Suidland.

21Die bevryders van Jerusalem

sal na die Sionsberg toe gaan

en oor die bergland Edom regeer.

Die Here sal Koning wees!”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help