JEREMIA 17 - Nuwe Lewende Vertaling

Juda se sonde en straf

1Die Here sê:

“My volk tree op

asof hulle bose weë

’n wet is wat ingegraveer is

met ’n ysterpen of

’n diamantpunt

op die tafels van hulle hart

en op die horings

van hulle altare.

2Selfs hulle kinders

gaan aanbid by hulle altare

en die Asjerapale

onder elke groen koelteboom

en op elke hoë heuwel,

3op die berge en in die veld.

Daarom sal Ek al julle rykdom

en julle kosbare besittings

vir die vyand gee as buit,

ook die hoë plekke

waar julle afgode aanbid het.

Dit is die prys

vir die sonde

wat julle oral

deur julle land gedoen het.

4Ek het die land vir julle

as ’n kosbare besitting gegee.

Dit sal uit julle hande glip.

Ek sal julle na ’n land stuur

wat julle nie ken nie,

as slawe vir julle vyande.

Julle het ’n vuur

in my woede aangesteek

en dit sal nie

geblus word nie.”

Vertroue in die Here

5Die Here sê:

“Daar rus ’n vloek op dié

wat hulle vertroue stel

in gewone mense,

en nie op die Here

vertrou nie.

6Hulle is soos bossies

in die woestyn

met geen vooruitsig

vir die toekoms nie.

Hulle sal woon

in ’n verskroeide woestyn,

op soutvlaktes

waar niemand kan oorleef nie.

7“Maar gelukkig is dié mense

wat op die Here vertrou

en hulle verwagting

in Hom stel.

8Hulle is soos bome

wat langs ’n rivier staan.

Hulle wortels reik diep

tot by die water.

Hitte bedreig hulle nie,

en hulle blare bly groen.

Lang maande van droogte

pla hulle ook nie.

Hulle hou nie op

om vrugte te dra nie.

9“Die mens se hart

is deur en deur bedrieglik

en boos.

Wie weet regtig hoe sleg dit is?

10“Maar Ek weet!

Ek, die Here,

deursoek mense se harte

en geheime motiewe.

En Ek gee aan almal

wat hulle toekom,

volgens wat hulle gedoen het.”

Jeremia vertrou die Here

11Mense

wat op ’n oneerlike manier

ryk word,

is net soos ’n voël

wat eiers uitbroei

wat sy nie gelê het nie.

Vroeër of later sal hulle

al hulle rykdom verloor.

Aan die einde van hulle lewens

sal hulle niks anders

as dwase wees nie!

12Maar ons aanbid U

by u glansryke troon,

ewig, hoog en glorieryk.

13O Here, hoop van Israel,

almal wat van U wegdraai,

sal beskaam word.

Hulle sal in die stof

begrawe word,

want hulle het weggedraai

van die Here,

die fontein van lewende water.

14 Here, U alleen

kan my gesond maak.

U alleen kan my red.

U alleen prys ek!

15Die mense vra my:

“Waar is die kamtige boodskap

van die Here?

Laat dit nou ’n bietjie waar word!”

16“Here,

ek het nie my taak opgegee

om ’n herder vir u volk te wees nie.

Ek het ook nie by U aangedring

om rampe oor hulle te bring nie.

Dit is u boodskap

wat ek aan hulle gegee het,

nie my eie nie.

17 Here, moenie my nou verlaat nie!

U alleen is my toevlug

as onheil toeslaan.

18Laat dié wat my vervolg

in die skande kom.

Laat húlle vreesbevange word,

maar nie ek nie!

Laat verwoesting

dubbel en dwars oor hulle kom!”

Onderhou die Sabbat

19Die Here het vir my gesê: “Gaan staan by die poorte van Jerusalem, eers die poort wat die konings van Juda gebruik waardeur hulle in- en uitgaan, en dan by al die ander poorte.

20“Sê vir die mense wat hierdie poorte gebruik: ‘O konings, al julle mense van Juda en ook julle wat in Jerusalem bly, hoor die boodskap van die Here.

21Hy sê: Luister sodat julle kan bly lewe! Hou op om op die Sabbatdag handel te dryf in Jerusalem se poorte.

22Moenie op die Sabbatdag werk nie. Maak van die Sabbat ’n heilige dag soos Ek julle voorouers beveel het om te doen.

23Maar hulle was ongehoorsaam en wou nie luister nie. Hulle was hardkoppig en wou nie die voorskrifte navolg nie.’

24“Maar die Here sê: ‘As julle My gehoorsaam en nie aanhou met julle handeldrywery op die Sabbatdag nie en ook nie op dié dag werk nie, maar dit ter wille van My heilig hou,

25sal daar ’n toekoms vir hierdie volk wees. Daar sal altyd ’n koning uit die familielyn van Dawid in Jerusalem regeer. Die konings en amptenare sal by die poorte van Jerusalem ingaan. Hulle sal op strydwaens en perde ry en tussen die mense van Juda wees.

“‘Daar sal ook altyd mense in Jerusalem woon.

26En mense sal uit die dorpe van Juda en die omgewing van Jerusalem, uit die gebied van Benjamin, van die heuwels in die weste van die land, van die berge en die woestyngebied in die suide na Jerusalem toe kom. Hulle sal brandoffers, graanoffers, wierook en dankoffers na die tempel van die Here bring.

27“‘Julle moet na My luister en die Sabbatdag heilig hou. As julle dit nie doen nie en aanhou om op die Sabbatdag julle handelsware rond te dra deur die poorte van Jerusalem soos op ander dae, sal Ek daardie poorte aan die brand steek. Die vuur sal van die poorte af na die paleise versprei. Niemand sal in staat wees om die vuur te blus nie.’”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help