PREDIKER 10 - Nuwe Lewende Vertaling

1Dooie vlieë

laat selfs parfuum sleg ruik.

So weeg ’n bietjie dwaasheid

baie meer as wysheid en eer.

2Die harte van wyse mense

laat hulle doen wat reg is.

Maar dwase mense se harte

laat hulle verkeerd doen.

3Jy kan dwase mense uitken

net aan die manier

waarop hulle in die straat stap.

4As die koning vir jou kwaad is,

moenie jou pos verlaat nie.

Rustigheid voorkom groter foute.

5Ek het iets slegs op aarde gesien:

Regeerders begaan ’n groot fout

6as hulle groot gesag

aan dwase mense toevertrou

terwyl rykes nie geëer word nie.

7Ek het slawe sien perd ry

terwyl prinse soos slawe moes loop.

8As jy ’n gat grawe,

val jy dalk self daarin.

En as jy ’n muur afbreek,

pik ’n slang jou dalk.

9As jy klippe kap,

kan jy beseer word.

En as jy hout kap,

kan dit gevaarlik wees.

10As die byl stomp is

en jy dit nie slyp nie,

moet jy meer krag gebruik.

Vaardigheid help jou

om sukses te behaal.

11Dit help niks as die slang pik

vóór jy hom besweer het nie,

en dan help die besweerder ook nie.

12Dis lekker om te luister

na wyse woorde.

Dwase se gepraat

lei egter net tot vernietiging.

13Dwase grond hulle gedagtes

op dwaasheid.

Daarom is hulle gevolgtrekkings

louter onsin.

14Dwase praat sonder ophou,

maar niemand weet

wat sal gebeur nie,

en niemand kan vir hom sê

wat ná hom sal kom nie.

15’n Dwaas se werk

maak hom moeg.

Hy weet nie eers

hoe om by sy stad

te kom nie.

16Rampe is die lot van die land

waar ’n slaaf koning is

en sy amptenare vroegdag

begin feesvier.

17Gelukkig is die land

wie se koning ’n edelman is

en wie se amptenare

op die regte tyd feesvier

met selfbeheersing,

en nie

met dronkenskap nie.

18Luiheid laat balke insak;

slap hande laat die dak lek.

19’n Fees is daar om te lag.

Wyn laat mense gelukkig voel,

maar geld betaal vir alles.

20Moenie sleg praat

van die koning nie,

nie eens in jou gedagtes nie.

En moenie ryk mense vloek nie,

nie eens

in jou slaapkamer nie.

Die voëls kan oorvertel wat jy sê,

hulle wat vlerke het,

kan jou woorde oordra.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help