KLAAGLIEDERE 1 - Nuwe Lewende Vertaling

Jerusalem treur

1 Die stad wat vol mense was,

is nou verlate.

Sy sit alleen daar, soos ’n weduwee

wat treur.

Die stad

wat eens die nasies se koningin was,

het nou hulle slaaf geword.

2Sy sit dwarsdeur die nag en huil.

Trane loop oor haar wange.

Nie een van haar minnaars

wil haar nou kom troos nie.

Al haar vriende

het haar verraai

en haar vyande geword.

3Juda is weggevoer

in ballingskap.

Hulle word verdruk

en gedwing om te werk.

Hulle woon

tussen vreemde volke

waar hulle nie tuis is nie.

Hulle agtervolgers

het hulle ingehaal

en in ’n hoek vasgekeer.

4Die paaie na Jerusalem lê verlate,

want niemand kom meer

na die tempelfeeste toe nie.

By die stad se ingang

is daar niemand nie.

Die priesters staan en sug.

Die jong vroue huil.

Jerusalem kry bitter swaar.

5Hulle wat Jerusalem onderdruk,

het gewen.

Dit gaan goed met haar vyande.

Die Here het die stad gestraf

oor die baie sondes

wat daar gedoen is.

Hulle het haar kinders gevang

en weggevat na ’n ander land.

6Al Jerusalem

se skoonheid het verdwyn.

Haar leiers het geword

soos uitgehongerde takbokke,

sonder ’n plek om te wei.

Hulle kan nie wegvlug

van hulle agtervolgers nie.

7In hierdie tyd van swaarkry

dink Jerusalem terug

aan die tyd toe sy mooi was.

Maar sy het

in haar vyand se hande beland

en niemand kon haar help nie.

Haar vyand het haar verwoes

en gelag

toe sy val.

8Jerusalem het baie gesondig

soos iemand wat vuil word.

Almal wat haar eers gerespekteer het,

verag haar nou.

Want hulle het haar

kaal en vernederd gesien.

Sy kan maar net sug

en haar gesig

in haar hande wegsteek.

9Sy het haar skandalig gedra

en nie aan haar straf

gedink nie.

Sy het so diep geval

dat niemand haar kan help nie.

“Here, kyk hoe sleg gaan dit,”

snik sy.

“My vyand het gewen!”

10Al haar kosbaarhede

het die vyand geplunder.

Sy het gesien hoe vreemde volke

die tempel van die Here ingaan,

dié mense wat die Here verbied het

om daar in te gaan.

11Haar inwoners sug

terwyl hulle na kos soek.

Hulle het al hulle kosbaarhede

vir kos geruil,

net om aan die lewe te bly.

“Kyk tog, Here,” sug sy.

“Almal verag my!”

12Is dit nie vreeslik vir julle

wat by die stad

verbyloop nie?

Kyk goed of daar ’n hartseer is

wat pyn soos dié van my!

Die Here het dit oor my gebring

toe Hy woedend was vir my.

13Hy het vuur van bo gestuur

wat my verteer.

Hy het ’n vangnet vir my gespan

wat my laat terugsteier.

Hy het my verlate gemaak

en ongeneeslik siek

agtergelaat.

14Die Here het met sy hand

van my oortredings

’n juk gevleg.

Hy het dit op my nek gesit.

Dit het my laat struikel.

Die Here het my uitgelewer aan hulle

teen wie ek nie kan veg nie.

15Die Here

het al my sterk manne

met minagting behandel.

Hy het ’n leër laat kom

wat my jong manne verpletter het.

Die Here het Juda

stukkend getrap

soos ’n mens druiwe uittrap.

16Daarom huil ek so.

Trane loop oor my wange.

Daar is niemand naby

wat my kan troos nie.

Daar is geen toekoms

vir my kinders nie.

Die vyand het ons oorweldig.

17Jerusalem steek haar hande uit

vir hulp,

maar niemand kom troos nie.

Die Here het beveel

dat Israel se bure

haar vyand moes word,

en dat Jerusalem

soos ’n vuil ding

weggegooi moet word.

18“Die Here is reg,” sug sy.

“Dit was ek wat teen Hom

in opstand gekom het.

Luister tog, al julle volke,

na wat ek sê.

Kyk na my hartseer.

My dogters en my seuns

is almal weggevoer as ballinge.

19Ek het my vriende gevra

om my te kom help,

maar hulle het my in die steek gelaat.

My priesters en oumense

in die stad

het van honger doodgegaan.

20Kyk hoe benoud is ek, Here.

My hart krimp inmekaar en ek bewe.

Ek was in opstand teen U.

Buite in die strate

maai die swaard alles af.

Binne in die huise

is daar net dood.

21Ander mense

hoor hoe ek kreun,

maar niemand kom my troos nie.

My vyande het gehoor

wat U met my gemaak het.

Hulle juig omdat U dit

aan my gedoen het.

Laat kom tog die dag

wat U beloof het,

wanneer hulle

soos ek sal word.

22Kyk na al die kwaad

wat hulle aangerig het.

Straf hulle daarvoor,

soos U vir my gestraf het

vir al my oortredings.

Ek sug baie diep.

My hart is siek.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help