MALEAGI 3 - Nuwe Lewende Vertaling

Die dag van oordeel is naby

1Die Here, die Almagtige, sê:

“Kyk, Ek stuur my boodskapper

wat die pad voor My gereedmaak.

Die Here na wie julle soek,

sal skielik na sy tempel toe kom.

Die boodskapper van die verbond

na wie julle so uitsien, kom beslis.

2Maar wie sal die dag van sy koms

kan deurstaan?

Wie sal kan standhou

wanneer Hy verskyn?

Hy sal wees soos vuur

wat metaal suiwer

of soos seep

wat klere spierwit was.

3Hy sal gaan sit en oordeel

soos iemand wat silwer smelt

en suiwer maak.

Hy sal die Leviete suiwer

en hulle soos goud en silwer louter.

Dan sal hulle weer

vir die Here aanvaarbare

offers bring.

4Dan sal die Here

weer offers aanvaar

van Juda en Jerusalem se mense,

soos vroeër.”

5Die Here, die Almagtige, sê:

“Ek kom om julle te oordeel.

Ek sal dadelik gereed wees

om teen die towenaars,

egbrekers en leuenaars te getuig.

Ek sal getuig teen mense

wat hulle werkers

met lone bedrieg

en weduwees en weeskinders

onderdruk.

Verder sal Ek ook getuig

teen hulle wat vreemdelinge

tussen julle laat swaarkry

en teen hulle

wat My nie respekteer nie.”

Keer terug na die Here

6“Ek is die Here, Ek verander nie.

Daarom, nageslag van Israel,

is julle nie heeltemal uitgewis nie.

7Van die tyd van julle voorouers af

het julle afgewyk

van my voorskrifte

en hulle nie gehoorsaam nie.”

Die Here, die Almagtige, sê:

“Keer terug na My toe

en Ek sal na julle toe terugkeer.

Maar julle vra:

‘Hoe moet ons terugkeer?’

8“Sal mense God ooit besteel?

Tog het julle My bedrieg!

Julle vra: ‘Wat bedoel U?

Wanneer het ons U ooit bedrieg?’

Julle het die tiendes

en offerandes gesteel!

9Daar rus ’n vloek op julle,

want julle hele volk besteel My.”

10Die Here, die Almagtige, sê:

“Bring al die tiendes

na die stoorkamers

sodat daar genoeg kos

in my tempel kan wees.

Toets My hierin of Ek nie vir julle

die vensters van die hemel

sal oopmaak nie.

Ek sal voorspoed

op julle laat reën

wat meer as genoeg

vir julle sal wees!”

11Die Here, die Almagtige, sê:

“Ek sal sorg dat insekte

julle oes nie verwoes nie

en julle wingerde op die landerye

nie misluk nie.

12Dan sal al die nasies

julle as geseënd beskou

omdat julle land begeerlik is.”

Dit is wat die Here, die Almagtige, sê.

13Die Here sê:

“Julle sê verskriklike dinge van My.

Maar julle sê:

‘Wat het ons van U gesê?’

14Julle het gesê:

‘Dis tevergeefs om God te dien.

Wat het ons daarby gebaat

om sy voorskrifte na te kom

of om die Here, die Almagtige, te wys

dat ons berou het oor ons sonde?

15Kwaaddoeners word ryk,

en mense wat God uitdaag,

kom skotvry daarvan af.

Daarom sal ons voortaan sê:

Verwaande mense is gelukkig.’”

Belofte van genade

16Die mense wat die Here dien,

het toe met mekaar gepraat.

Die Here het na hulle geluister

en gehoor wat hulle sê.

Hulle het ’n gedenkboek

in sy teenwoordigheid geskryf.

Dit het die name bevat van mense

wat die Here met ontsag dien

en graag aan Hom dink.

17Die Here, die Almagtige, sê:

“Die dag as Ek ingryp,

sal hulle my kosbare besitting wees.

Ek sal sagkens met hulle werk,

soos ’n pa met sy kind

wat lojaal aan hom is.

18Dan sal julle weer die verskil sien

tussen mense wat reg doen

en goddelose mense,

die verskil tussen mense wat God dien

en dié wat Hom nie dien nie.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help