JESAJA 64 - Nuwe Lewende Vertaling

1As U maar die hemel

wou laat oopskeur en afkom!

Hoe sal die berge nie bewe

in u teenwoordigheid nie!

2Kom soos ’n vuur

wat hout laat brand

en water laat kook,

kom tog en maak Uself bekend

aan u vyande.

Dan sal die nasies voor U bewe!

3Toe U lank gelede afgekom het,

het U ontsagwekkende dinge

gedoen,

wat ons nie verwag het nie,

en die berge het voor U gebewe.

4Vandat die wêreld gemaak is,

het geen oor gehoor

of oog ’n God gesien

soos U,

wat doen wat U doen

vir dié wat op U vertrou nie.

5U help mense

wat met blydskap

doen wat U beveel,

wat u weë onthou.

Maar ons het aangehou

om verkeerd te doen.

U was kwaad vir ons.

Hoe kan ons ooit gered word?

6Voor U het ons almal geword

soos iemand wat onrein is.

Ons beste dade is soos vuil klere,

soos verskrompelde blare.

Deur ons sondes

waai die wind ons weg.

7Niemand roep na U om hulp nie,

niemand soek

sy sterkte in U nie.

U het u gesig vir ons verberg,

U laat ons vergaan

onder die las van ons sondes.

8Tog, Here, is U ons Vader.

Ons is soos klei

en U is die Pottebakker.

Deur u hand is ons almal gevorm.

9 Here, moet tog nie kwaad wees

vir ons nie.

Moenie ons sondes

vir altyd teen ons hou nie.

Ons bid tot U: Sien ons tog raak.

Ons almal is tog u volk!

10U heilige stad

het ’n woestyn geword.

Sion is ’n woesteny,

Jerusalem is

soos ’n verlate woestyn.

11Ons heilige en glorieryke

tempel

waar ons voorouers U aanbid het,

is afgebrand.

Alles wat vir ons kosbaar was,

is vernietig.

12Raak die dinge U dan nie,

Here?

Gaan U doodstil bly?

Sal U aanhou om ons te laat ly,

ons te kasty

bo ons vermoëns?

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help