SPREUKE 19 - Nuwe Lewende Vertaling

1Dit is beter

om arm

en eerlik te lewe

as om met leuens te lewe

en ’n dwaas te wees.

2Geesdrif sonder kennis

help niks.

Oorhaastigheid

stuur jou

in die verkeerde koers.

3’n Mens se eie dwaasheid

ontwrig jou lewe,

dan verkwalik jy nog

die Here daarvoor.

4Rykdom

bring baie mooiweersvriende.

’n Arm mens

het geen vriende nie.

5’n Vals getuie

bly nie sonder straf nie.

’n Leuenaar

sal die oordeel nie vryspring nie.

6Almal probeer

om gewild te wees

by ’n belangrike man.

Almal is vriende met die man

wat geskenke uitdeel.

7As ’n arm man se broers

niks met hom te doen wil hê nie,

hoeveel te meer sal sy naaste

hulle nie aan hom steur nie?

Hy smeek verniet by hulle.

Hulle is weg.

8Iemand wat vir homself omgee,

kry wysheid in die hande.

Iemand wat insig vashou,

geniet voorspoed.

9’n Vals getuie kom nie vry nie.

Iemand wat leuens rondstrooi,

gaan tot niet.

10Weelde pas nie by ’n dwaas nie.

’n Slaaf

behoort nog minder te regeer

oor belangrike mense.

11’n Verstandige mens

hou sy humeur in bedwang.

Hy stel sy eer daarin

om ander se oortredings

oor te sien.

12As ’n koning kwaad word,

is dit soos ’n leeu wat brul.

Sy goeie gesindheid

is soos dou op die gras.

13’n Dwase seun

is ’n ramp vir sy pa.

’n Vrou wat bly neul,

is soos water

wat van die dak af drup.

14Van sy pa kan iemand

’n huis of rykdom erf,

’n verstandige vrou

kry jy net by die Here.

15Luiheid laat jou diep slaap.

’n Lui mens ly honger.

16Iemand wat vashou

aan die gebod van die Here,

sal sy lewe behou.

Iemand wat dit verag,

gaan dood.

17Om na ’n arm mens om te sien,

is ’n lening aan die Here.

Hy sal jou daarvoor vergoed.

18Voed jou seun streng op,

dan is daar ’n toekoms.

Moenie jou te buite gaan

en hom skade aandoen nie.

19’n Humeurige mens

betaal self die prys daarvoor.

As jy hom eers een keer oorsien,

moet jy dit elke keer herhaal.

20Luister na raad.

Wees bereid

om tereggewys te word

sodat jy die res van jou lewe daardeur

wysheid kan hê.

21’n Mens kan hoeveel planne maak,

maar op die ou einde gebeur

wat die Here besluit het.

22’n Mens se lojaliteit

is prysenswaardig.

Dit is beter om arm te bly

as om te bedrieg.

23Iemand wat respek het vir die Here

se lewe is veilig.

Hy kan rustig slaap.

Geen ramp sal hom tref nie.

24’n Luiaard steek sy hand

in die skottel,

maar hy is te lui

om dit na sy mond te bring.

25As jy iemand wat spot,

bestraf,

leer jy dié wat nog onervare is.

Wanneer jy

’n verstandige teregwys,

word hy nog verstandiger.

26’n Seun wat sy pa aanrand

en sy ma uit die huis jaag,

is ’n veragtelike

en skandelike mens.

27My kind,

wanneer jy ophou

om te luister na teregwysing,

draai jy jou rug

op verstandige raad.

28’n Nuttelose getuie

maak van ’n hofsaak

’n bespotting.

Goddelose mense

verorber kwaad.

29Straf is opgeskryf vir mense

wat ander belaglik maak,

en slae wag vir die dwase.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help