JOB 27 - Nuwe Lewende Vertaling

Job: Ek is onskuldig

1Job het die gesprek voortgesit:

2“So seker as wat God leef,

Hy wat my regte

van my weggeneem het,

die Almagtige

wat my verbitter het,

3solank ek leef,

solank God my laat asemhaal,

4sal ek niks verkeerds sê nie.

Ek sal nie leuens

vertel nie.

5Daarom kan ek nooit erken

dat julle reg is nie.

Tot ek sterf,

sal ek my onskuld verdedig.

6Ek hou vol dat ek onskuldig is.

My gewete is skoon

solank ek leef.

7“Mag my vyande gestraf word

soos die kwaaddoeners,

my teenstander

soos bose mense.

8Want watter hoop

het die goddelose mens

wanneer God hom afsny

en sy lewe wegneem?

9Sal God luister na hom

wanneer ’n ramp hom tref?

10Kan hy hom verlustig

in die Almagtige?

Kan hy enige tyd na God roep?

11“Laat ek julle iets vertel

oor God se mag.

Ek sal niks verswyg

oor die Almagtige nie.

12Maar dis ook nie nodig nie,

want julle het alles self gesien.

Tog hou julle aan

om hierdie nuttelose goed

vir my te sê.

13“Dit is wat die kwaaddoeners

van God gaan ontvang,

dit is hulle erfdeel

van die Almagtige.

14Al hulle baie kinders

sal sterf in die oorlog

of doodgaan van honger.

15Dié wat oorleef,

sal deur die pes

na hulle graf toe gaan.

Niemand sal oor hulle treur nie,

nie eens hulle vroue nie.

16Bose mense

besit dalk al die geld

in die wêreld

en kan berge van klere opgaar,

17maar die regverdige

sal die klere dra,

en die onskuldiges

sal die geld

tussen hulle verdeel.

18Die huise van bose mense

is broos soos ’n spinnerak,

so wankelrig

soos ’n skuiling van takke.

19Die kwaaddoener gaan slaap

in rykdom,

maar sal dit nie behou nie.

Hy ontwaak in armoede.

20Angs oorweldig hulle

soos ’n vloed

en die storm waai hulle weg

in die nag.

21Die oostewind

waai hulle ver weg,

en hulle is nie meer nie.

22Sonder genade

kom die wind op hulle af.

Hulle probeer wegkom

van die storm se geweld.

23Almal is bly

oor hulle ondergang

en spot met hulle.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help