PSALMS 71 - Nuwe Lewende Vertaling

Moenie my verlaat nie

1 Here,

by U soek ek beskerming;

laat my nooit

beskaamd staan nie.

2Red my en verlos my,

want by U is regverdigheid.

Luister na my

en maak my vry.

3Wees vir my ’n rots

en ’n toevlug,

’n plek waarheen ek

altyd kan vlug.

U het reeds my redding bepaal,

want U is my rots

en my vesting.

4My God, red my

uit die mag van goddeloses,

uit die kloue van mense

wat wreed en onregverdig is,

5want U, Here, is my hoop.

Here,

van kleins af het ek op U vertrou.

6U is my hulp vanaf geboorte;

reeds voor geboorte

het U vir my gesorg.

Dis waarom ek

U gedurig prys.

7Ek is ’n wonder vir baie,

want U is my sterke toevlug.

8Ek hou aan om U te prys;

die hele dag sing ek

oor u heerlikheid.

9Moenie my eenkant toe stoot

noudat ek oud geword het nie.

Moenie my verlaat

wanneer my kragte

afneem nie.

10Want my vyande beplan

teen my;

dié wat my lewe soek,

span saam teen my.

11Hulle sê: “God het hom verlaat.

Kom ons agtervolg hom

en vang hom,

want niemand sal hom red nie.”

12O God,

moenie ver wees van my nie.

My God,

maak tog gou en help my.

13Laat my aanklaers

in skande omkom.

Laat vernedering en oneer

hulle tref,

hulle wat my skade wil aandoen.

14Maar ek sal aanhou hoop,

U meer en meer prys.

15Ek sal u regverdigheid

bekendmaak,

en die hele dag

van u redding vertel,

al is dit te veel om op te noem.

16Oppermagtige Here, ek kom

om u magtige dade te prys,

ek sal vir almal vertel

dat U alleen regverdig is.

17O God,

U het my van jongs af geleer,

en nog steeds getuig ek

van u wonderdade.

18O God,

noudat ek oud en grys is,

moenie my verlaat nie,

sodat ek aan die nageslagte

u mag bekend kan maak,

en aan elkeen wat nog sal kom

van u magtige werke

kan vertel.

19U regverdigheid, o God,

reik tot aan

die hoogste hemele.

U het wonderlike dinge gedoen.

Wie is soos U, o God?

20U het diep nood

oor my laat kom,

maar U herstel my weer tot lewe.

Uit die diepwaters van die aarde,

uit die doderyk,

rig U my weer op.

21U sal my in eer herstel

en weereens

my vertrooster wees.

22Dan sal ek U prys met die harp,

want U is getrou, o God.

Met sang en lier sal ek U loof,

o Heilige van Israel.

23Van vreugde sal ek jubel

en u lof besing,

want U het my gered.

24Heeldag vertel ek

van u geregtigheid.

Dié wat my kwaad wou aandoen,

is nou self beskaam en verneder.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help