JOB 3 - Nuwe Lewende Vertaling

Job praat vir die eerste keer

1Ten einde laaste het Job begin praat. Hy het die dag waarop hy gebore is, vervloek.

2Hy het gesê:

3“As my geboortedag

tog nooit aangebreek het nie,

en die nag toe daar gesê is:

‘’n Seun is gebore.’

4As daardie dag

tog donker gebly het

en God daarbo

dit nie raakgesien het nie,

en geen lig daardie dag

geskyn het nie!

5Mag duisternis en donkerte

dit weer opeis

en ’n wolk dit oorskadu.

Mag donkerte die dag verskrik.

6Mag diep duisternis daardie nag

wegneem.

Mag dit nooit getel word

as ’n dag in die jaar nie.

Mag dit nie tussen die maande

verskyn nie.

7Mag daardie nag

onvrugbaar gebly het.

Mag dit vir niemand

enige vreugde bring nie.

8“Mag mense wat dae vervloek,

ook hierdie dag vervloek,

so ook die mense wat die seemonster

kan oproep.

9Die sterre van daardie oggend

moes verduister gewees het.

Die dag moes tevergeefs

gewag het op lig

en nie die dag sien breek het nie.

10Want dit het nie verhoed

dat ek gebore word nie,

het nie smart vir my weggesteek nie.

11“Hoekom het ek nie

by geboorte gesterf

en omgekom

terwyl ek gebore is nie?

12Hoekom was daar ’n skoot

om my op neer te sit,

twee borste waaraan ek kon drink?

13Want dan sou ek in vrede

in die graf kon lê,

en rustig in die dood geslaap het

14saam met konings

en raadgewers van die aarde

wat puinhope herbou het,

15met vorste wat goud besit het

en huise vol silwer.

16Hoekom is ek nie maar

in die grond weggesteek

soos ’n misgeboorte,

soos ’n doodgebore kind

wat nie die daglig gesien het nie?

17Daar staak die goddeloses

die onrus,

en daar kan die vermoeides rus.

18Gevangenes geniet hulle rus,

hulle hoor nie die stem

van die slawedrywer nie.

19Daar is geringes

en vernames gelyk,

en die slaaf is vry van sy baas.

20“Hoekom gee God lig aan mense

wat moeg is,

lewe vir dié wat verbitterd is?

21Hulle wens dat hulle

kan doodgaan,

maar die dood ontwyk hulle.

Hulle soek die dood

eerder as verborge skatte.

22As hulle uiteindelik doodgaan,

is dit vir hulle

’n groot verligting en vreugde.

23Hoekom moet mense

wat niks van die toekoms

verwag nie,

aanhou lewe,

mense vir wie God

aan swaarkry oorgegee het?

24Versugting is my voedsel,

my kreune word uitgegiet

soos water.

25Dit waarvoor ek gevrees het,

het oor my gekom.

Dit waarvoor ek bang was,

het nou met my gebeur.

26Ek ken geen rus en vrede nie.

Daar is vir my

geen blaaskans meer nie,

net moeilikheid.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help