JESAJA 56 - Nuwe Lewende Vertaling

Seën vir al die nasies

1So sê die Here:

“Tree regverdig en eerlik op,

doen wat reg en goed is,

want Ek is op pad

om julle te red.

2Geseënd is almal wat versigtig

dit alles doen.

Geseënd is elkeen

wat my Sabbatdae onderhou

deur te weier om dan te werk.

En geseënd is almal wat weier

om die verkeerde te doen.

3“’n Uitlander

wat deel geword het

van die volk van die Here

moenie dink:

‘Die Here sal my sekerlik

uitsluit van sy volk!’ nie.

’n Ontmande moenie dink:

‘Ek is maar ’n droë boom!’ nie.”

4Want so sê die Here:

“Aan die ontmandes

wat my Sabbat onderhou

en kies om te doen

wat My behaag,

en lewe volgens my verbond,

5vir hulle sal Ek

in my tempel en aan sy mure

’n gedenkteken oprig,

en ’n erenaam gee

wat beter is as dié van seuns

en dogters.

Ek sal aan hulle

’n blywende naam gee,

wat nooit uitgewis sal word nie.

6Ek seën ook die uitlanders

wat hulle aan die Here wy

en Hom dien en liefhet

en die Sabbatdae onderhou

en lewe volgens my verbond.

7Ook húlle bring Ek

na my heilige berg

en gee hulle vreugde

in my huis van gebed.

Hulle brandoffers en ander offers

sal Ek aanvaar,

want my tempel

sal ’n huis van gebed genoem word

vir al die nasies.”

8Die oppermagtige Here,

wat die ballinge van Israel

terugbring, sê:

“Benewens my volk Israel

bring Ek ook ander huis toe.”

Sondige leiers veroordeel

9Kom, wilde diere van die veld!

Al die diere in die bos,

kom en verslind my volk!

10Israel se wagte is almal blind

en weet niks.

Hulle is soos honde

wat nie kan grom of blaf

wanneer gevaar aankom nie.

Hulle hou net daarvan om rond te lê,

te droom en te slaap.

11Hulle is so gulsig soos honde

wat nooit genoeg kry nie.

Hulle is dwase herders.

Elkeen loop op sy eie paadjie

en elkeen sorg net vir homself.

12Hulle sê:

“Kom, hier is die wyn!

Laat ons dronk word van bier!

Laat ons aanhou partytjie hou!

Môre sal selfs nog beter wees

as vandag.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help