AMOS 1 - Nuwe Lewende Vertaling

1Hierdie boodskap oor Israel is vir Amos, ’n skaapboer uit Tekoa, gegee. Hy het dit twee jaar voor die aardbewing deur ’n visioen ontvang. Dit was in die tyd toe Ussia koning van Juda was en Jerobeam, die seun van Joas, koning van Israel.

2Amos het die volgende gesê:

“Die Here brul uit Sion,

sy stem dreun uit Jerusalem!

Die weivelde kwyn weg.

Die gras bo-op Karmel verdor.”

Oordeel oor Israel se bure

3Die Here sê:

“Die mense van Damaskus

het keer op keer gesondig.

Ek sal hulle nie langer

ongestraf laat nie!

Hulle het die mense van Gilead

soos graan

met ’n ysterslee vertrap.

4Daarom sal Ek die paleis

van koning Gasael

afbrand.

Die vestings van Ben-Hadad

sal Ek vernietig.

5Damaskus se hekgrendels

sal Ek stukkend breek,

die inwoners van Bikat-Awen

sal Ek uitroei.

Die leier van Bet-Eden

sal Ek uitruk

en die mense van Sirië

as gevangenes

na Kir laat wegvoer.”

So sê die Here.

6Die Here sê:

“Die mense van Gasa

het keer op keer gesondig.

Ek sal hulle nie langer

ongestraf laat nie!

Hulle het my volk

in ballingskap

laat gaan,

hulle aan Edom

as slawe verkoop.

7Ek sal die mure van Gasa

afbrand,

Ek sal hulle vestings vernietig.

8Die inwoners van Asdod

sal Ek uitwis,

die koning van Askelon

uitroei.

Daarna sal Ek Ekron aanval,

en die Filistyne wat oor is,

sal ophou bestaan.”

So sê

die oppermagtige Here!

9Die Here sê verder:

“Die mense van Tirus

het keer op keer gesondig.

Ek sal hulle nie langer

ongestraf laat nie!

Hulle ooreenkoms met Israel

het hulle nie nagekom nie.

Hulle het hele gemeenskappe

weggevoer

en hulle aan Edom uitgelewer.

10Ek sal die mure van Tirus

afbrand

en hulle vestings vernietig.”

11Die Here sê:

“Die mense van Edom

het keer op keer gesondig.

Ek sal hulle nie langer

ongestraf laat nie!

Hulle het hulle bloedverwante,

die Israeliete,

genadeloos

met swaarde agtervolg.

Hulle het ’n ewige haat

vir Israel gehad,

’n woede wat bly opvlam.

12Daarom sal Ek Teman

afbrand

en die vestings van Bosra

verteer.”

13Die Here het gesê:

“Die mense van Ammon

het keer op keer gesondig.

Ek sal hulle nie langer

ongestraf laat nie!

Toe hulle Gilead aangeval het

om hulle grense uit te brei,

het hulle selfs swanger vroue

oopgesny.

14Daarom sal Ek ’n vuur

aansteek

in die mure van Rabba

en hulle vestings verteer.

Op die dag van die veldslag

sal krete opgaan.

Die dag as ’n orkaan jou tref,

sal dit wees

soos ’n stormwind.

15Hulle koning en sy amptenare

sal saam in ballingskap

gaan.”

Dit is

wat die Here gesê het!

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help