PSALMS 49 - Nuwe Lewende Vertaling

God sal my loskoop

1Vir die koorleier: Van die Koragiete. ’n Psalm.

2Luister hierna, al julle volke!

Gee ag,

al julle bewoners van die wêreld:

3eenvoudiges

en mense van aansien,

dié wat ryk is

en dié wat arm is!

4My mond

sal wyse woorde praat,

my gedagtes

sal getuig van insig.

5Ek sal luister na spreuke

en raaisels oplos

by die speel van die lier.

6Waarom sal ek bang wees

in tye van nood,

wanneer bose bedrieërs

my omsingel,

7hulle wat vertrou

op hulle welvaart,

wat spog met hulle rykdom?

8Geen mens

kan enigsins ’n ander loskoop

deur ’n losprys

aan God te gee nie.

9Die redding van ’n mens

is te duur.

Niemand kan ooit genoeg betaal

10sodat hy vir altyd sal lewe

en die dood nie sal sien nie.

11Almal kan sien:

Wyse mense sterf,

ook die dwaas

en die stommerik,

en laat hulle rykdom agter

vir ander.

12Hulle graf

is hulle tuiste vir altyd.

Daar sal hulle bly

van geslag tot geslag,

selfs al het hulle die grond

na hulleself vernoem.

13Die mens in weelde

leef nie vir altyd nie,

maar sterf self

net soos die diere.

14Dit is die lot van dwase mense,

en dié

wat hulle woorde beaam.

Sela

15Soos skape

is hulle vir die doderyk bestem,

daar waar die dood

hulle herder sal wees.

Die opregtes

sal oor hulle seëvier

wanneer die dag aanbreek;

hulle sal verrot in die graf

wat vir hulle

’n tuiste sal wees.

16Maar God

sal my verseker loskoop

uit die mag van die doderyk

en my saam met Hom neem.

Sela

17Moenie ontsteld word

as die goddelose ryk word

en sy woning

nog mooier maak nie.

18Hy kan niks

met hom saamneem

wanneer hy sterf nie;

sy besittings

sal hom nie volg nie.

19Hoewel hy

voorspoedig kan wees,

en hulle hom toejuig

oor sy sukses,

20sal hy sterf

soos sy voorouers voor hom

wat nie weer die daglig

sal sien nie.

21Die mens met rykdom

sonder insig

is net soos diere wat vergaan.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help