PSALMS 19 - Nuwe Lewende Vertaling

Die heerlikheid van God

1Vir die koorleier: ’n Dawidspsalm.

2Die hemele verkondig

die heerlikheid van God.

Die uitspansel getuig

van die werk van sy hande.

3Die een dag vertel

vir die ander dag;

die een nag vir die volgende nag.

4Hulle praat sonder woord of klank,

geluidloos is hulle stem;

5hulle boodskap gaan uit

oor die hele wêreld,

hulle woorde

tot die uiterste van die aarde.

Die son se woonplek is in die hemel,

waar God dit geplaas het.

6Soos ’n bruidegom

verskyn hy uit sy kamer,

soos ’n held op die baan,

ywerig om weg te spring.

7Aan die een kant van die horison

kom hy op

en aan die ander kant

gaan hy onder.

Niks kan sy hitte ontkom nie.

8Die Here se voorskrifte is volkome,

dit gee nuwe lewenskrag.

Die bepalings van die Here

is betroubaar;

dit maak die eenvoudige

verstandig.

9Die Here se bevele is reg,

dit bring vreugde vir die hart.

Die opdragte van die Here

is duidelik;

dit gee insig vir die lewe.

10Die gebooie van die Here

is suiwer,

dit bly vir altyd staan.

Die Here se voorskrifte is reg;

elkeen van hulle is regverdig.

11Hulle is kosbaarder as goud,

selfs as die fynste goud.

Hulle is soeter as heuning,

as druppels

uit ’n heuningkoek.

12Dis ’n waarskuwing

vir u dienaar,

en ’n groot beloning

vir dié wat dit gehoorsaam.

13Wie kan sy eie oortredings

verstaan?

Spreek my vry

oor verborge sondes,

14en bewaar my

van opsetlike sondes!

Laat hulle nie oor my heers nie.

Dan sal ek vry wees van skuld,

en onskuldig

aan groot oortredings.

15Mag die woorde van my mond

en die gedagtes van my hart

vir U aanneemlik wees,

Here, my rots

en my Verlosser.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help