PSALMS 74 - Nuwe Lewende Vertaling

Hoe lank sal die vyand spot?

1’n Gedig van Asaf.

Waarom, o God,

verstoot U ons so lank?

Waarom is U so kwaad

vir hulle wat aan U behoort?

2Dink tog aan u gemeente

wat U lank gelede gekies het,

die volk gekoop as u eie erfenis,

Sionsberg,

waar U gewoon het.

3Kom loop tog gou tussen die puin

van lank gelede,

die puin van u heiligdom

wat die vyand verwoes het.

4Daar het die oorwinningskrete

van u vyand weerklink,

hulle vyand het gevegsbaniere

opgerig.

5Dit was asof mense,

met byle omhoog,

bome afkap in ’n digte bos.

6Al die houtsneewerk het hulle

nou met byle en koevoete

verpletter.

7Hulle het u heiligdom verbrand,

die woonplek van u Naam

tot op die grond ontheilig.

8Hulle sê vir mekaar:

“Laat ons alles vernietig!”

Toe verbrand hulle

elke plek in die land

waar God vereer is.

9Ons sien nie wondertekens nie;

daar is geen profeet meer nie;

en niemand by ons weet

vir hoe lank nie.

10Hoe lank, o God,

sal ons vyande U bespot?

Hoe lank sal hulle u Naam

vir altyd beledig?

11Hoekom hou U

u regterhand terug?

Steek uit u hand

en vernietig hulle!

12U, o God, is van lankal af

my koning,

U bring redding op die aarde.

13Deur u krag

het U die see verdeel,

die koppe van seemonsters

in die water vermorsel.

14Die koppe van die Leviatan

het U verpletter.

U het hom as kos

vir die woestyndiere gegee.

15U laat fonteine en strome vloei,

en standhoudende riviere

opdroog.

16Selfs dag en nag

behoort aan U;

U het die son en maan gemaak.

17U het die grense van die aarde

bepaal,

somer en winter het U gemaak.

18Dink tog, o Here,

hoe die vyand U bespot,

hoe ’n dwase volk

u Naam belaster.

19Moenie die lewe van u duiwe

aan wilde diere gee nie.

Moenie u verdrukte volk

vir altyd vergeet nie.

20Kyk tog na u verbond,

want tot in die donkerste hoekies

is die aarde vol geweld!

21Moenie dat die verdrukte

in skande omdraai nie.

Laat die behoeftiges en armes

u Naam liewer prys.

22Staan op, o God,

en verdedig u saak.

Onthou hoe dwase mense

U die hele dag beskuldig.

23Vergeet nie die geraas

van u vyande,

die lawaai van u teenstanders

wat voortdurend opgaan nie.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help