SPREUKE 8 - Nuwe Lewende Vertaling

Wysheid se oproep

1Wysheid self staan en roep.

Insig laat haar stem hoor.

2Sy staan by die hoë plekke

langs die pad.

Sy staan daar

waar die paaie mekaar kruis.

3Sy staan

by die ingang van die stad.

Sy roep uit by die poorte:

4“Ek roep na julle almal.

Ek roep hardop na alle mense:

5Julle wat nog ervaring kortkom,

moet verstandig word.

Dié wat dwaas optree,

moet insig ontwikkel.

6Luister na my.

Ek het iets belangriks om te sê.

Elke woord uit my mond

is opreg.

7Ek praat die volle waarheid.

Vir bedrog het ek nie tyd nie.

8Alles wat ek sê, is reg.

Daar is niks daarin

wat krom of verdraai is nie.

9Hulle wat insig het,

weet dat ek reguit praat.

Hulle wat na kennis soek,

weet wat ek sê, is reg.

10Aanvaar eerder wat ek julle leer,

dit is meer werd as silwer.

My kennis is meer werd as goud.

11Wysheid is baie meer werd

as edelstene.

Daar is niks wat jy kan begeer

wat teen wysheid

kan opweeg nie.”

Wat Wysheid doen in die wêreld

12“Ek, Wysheid, maak my tuis

by dié wat verstand het.

Ek weet waar om kennis

en onderskeidingsvermoë te bekom.

13Hulle wat respek het

vir die Here,

haat dit wat verkeerd is.

Daarom haat ek hoogmoed

en hovaardigheid,

’n verkeerde lewe

en slinkse woorde.

14Ek besit raad en goeie oordeel.

Ek het insig en sterkte.

15Konings regeer met my hulp.

Deur my maak regeerders

die regte wette.

16Leiers neem deur my hulp leiding.

Deur my maak

vooraanstaande mense

die regte uitsprake.

17Ek het hulle lief

wat my liefhet.

Hulle wat na my soek,

sal my kry.

18Ek het rykdom en eer,

uitsonderlike skatte

en geregtigheid.

19Wat ek gee,

is beter as die suiwerste goud.

My beloning is beter

as die suiwerste silwer.

20Ek loop die pad

van reg en geregtigheid.

21Ek maak húlle ryk

wat my liefhet.

Hulle pakkamers

maak ek propvol.”

Wysheid was lankal al daar

22“Die Here

het my heel eerste gemaak.

Ek was al daar

voor Hy die res gemaak het.

23Ek is voor die tyd al gevorm,

heel aan die begin,

voor die aarde daar was.

24Ek is gebore

toe die diep waters

nog nie eers daar was nie,

toe die fonteine

nog nie water gegee het nie.

25Ek het reeds gekom

voor die berge gevestig is

en daar heuwels was.

26Ek was daar

voor die Here die aarde

met sy vlaktes gemaak het,

voor Hy selfs die eerste grond

van die aarde gemaak het.

27Ek was al daar

toe Hy die hemelkoepel

op sy plek geplaas het,

toe Hy die horison oor die see

afgemerk het.

28Ek was al daar

toe Hy die wolke

daarbo gesit het

en die fonteine

onder die diep waters

laat uitborrel het.

29Ek was alreeds daar

toe Hy die see se grens

bepaal het sodat dit nie

die grens kan oorsteek

wat Hy daarvoor gestel het nie.

Ek was daar

toe Hy die fondamente

van die aarde afgemerk het.

30Soos ’n boumeester

was ek elke dag langs Hom.

Ek was elke dag sy vreugde.

Die hele tyd

het ek dit by Hom geniet.

31Ek het my verlustig in die wêreld

wat Hy gemaak het.

Die mense wat Hy gemaak het,

het my vreugde gegee.”

Dit gaan goed met die mens wat aan Wysheid vashou

32“My kinders, luister na my.

Hulle wat op my pad bly,

sal geseënd wees.

33Luister wat ek julle leer

sodat julle wys kan wees.

Moenie dit ignoreer nie.

34Dit sal goed gaan

met elke mens

wat na my luister,

wat elke dag na my huis toe kom

en buite by my deur

vir my staan en wag.

35Hy wat my kry,

kry die lewe self.

Hy geniet die guns

van die Here.

36Hy wat my nie wil vind nie,

doen skade aan homself.

Hy wat my haat,

is lief vir die dood.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help