PSALMS 105 - Nuwe Lewende Vertaling

God is getrou aan sy beloftes

1Dank die Here,

maak sy Naam bekend!

Maak sy dade bekend

aan die nasies.

2Sing vir Hom, sing tot sy eer!

Vertel van sy wonderdade

aan almal.

3Roem sy heilige Naam.

Wees bly,

dienaars van die Here!

4Vra na die Here en sy krag,

hou aan om Hom te soek.

5Dink aan sy wonderdade,

sy tekens en sy regspraak.

6Kinders van Abraham,

sy dienaar,

nakomelinge van Jakob,

God se uitverkorenes.

7Hy is die Here ons God.

Sy uitsprake

is oor die hele aarde.

8Hy sal sy verbond altyd onthou,

die bepalings wat Hy beveel het

vir duisend geslagte,

9die verbond

met Abraham gesluit

en sy eed aan Isak.

10Hy het dit aan Jakob bevestig

as ’n vaste bepaling,

aan Israel

as ’n voortdurende verbond:

11“Ek gee die land Kanaän

vir jou

as jou eie besitting.”

12Toe hulle maar min was,

’n klein groepie mense

en vreemdelinge in die land,

13het hulle rondgetrek

tussen die volke,

van een koninkryk

na die ander.

14Hy het nie toegelaat

dat hulle verdruk word nie.

Ter wille van hulle,

het Hy konings gewaarsku:

15“Moenie my gesalfdes

aanraak,

en my profete

kwaad aandoen nie.”

16Hy het ’n hongersnood

oor die land gebring,

en hulle kosvoorrade

laat opraak.

17Hy het iemand vooruitgestuur:

Josef, wat verkoop is as slaaf.

18Sy voete het hulle

in boeie gedwing,

en sy nek

in ’n ysterhalsband gesit

19tot sy woord

waar geword het,

en die Here se woord

hom reg bewys het.

20Toe het Farao hom vrygelaat;

die heerser oor volke

het hom bevry.

21Hy het hom aangestel

oor sy huis,

met gesag oor al sy eiendomme.

22Hy kon aan sy beamptes

bevele gee,

en sy hoofamptenare

wysheid leer.

23Toe het Israel

na Egipte toe gekom.

Jakob het as vreemdeling

in die land Egipte

gaan woon.

24Die Here het sy volk

laat vermeerder

en hulle was magtiger

as die vyande.

25Hy het hulle gesindheid

verander

sodat hulle sy volk gehaat het,

en listig saamgesweer het

teen die dienaars van die Here.

26Hy het Moses, sy dienaar,

gestuur,

en vir Aäron, wat Hy verkies het.

27Hulle het wondertekens

tussen hulle verrig,

en wonderwerke

in die land Egipte.

28Hy het duisternis gestuur,

en dit het donker geword.

Nogtans het die Egiptenaars

hulle teen sy bevele verset.

29Hy het hulle water

in bloed verander,

en so al die visse laat vrek.

30Toe het paddas

die land oordek,

tot in die koning se slaapkamer.

31Op sy bevel

het swerms insekte gekom,

en muggies oor die hele land.

32Hy het hael gestuur

in plaas van reën,

en weerlig oor hulle hele land.

33Wingerde en vyebome

het Hy getref,

en al hulle bome

stukkend geslaan.

34Op sy bevel

het sprinkane gekom,

hordes sprinkane sonder tal.

35Al die groen plante in die land

het hulle verorber,

al die produkte van die landerye

het hulle vernietig.

36Die oudste seuns in hulle land

het Hy laat sterf,

die eerstelinge

van elke huisgesin.

37Toe het Hy Israel

uit Egipte uitgelei,

oorlaai met silwer en goud.

Niemand in die stamme

het gestrompel nie.

38Egipte was bly

toe hulle getrek het,

want hulle was almal

baie bang vir hulle.

39Die Here het as bedekking

’n wolk oor hulle uitgesprei,

en vuur om die nag te verlig.

40Hulle het kos gevra,

en Hy het kwartels gestuur;

met brood uit die hemel

het Hy hulle versadig.

41Hy het ’n rots gekloof,

en water het uitgestroom,

’n rivier het

in dorre plekke gevloei.

42Hy het inderdaad sy heilige belofte

aan Abraham sy dienaar

onthou.

43Hy het sy volk

met vreugde gelei,

sy uitverkorenes uitgelei

met gejuig.

44Die lande van nasies

het Hy aan hulle gegee,

en wat ander geplant het,

het hulle geoes

45sodat hulle sy gebooie

sou onderhou

en sy voorskrifte

sou gehoorsaam.

Prys die Here!

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help