PSALMS 44 - Nuwe Lewende Vertaling

Here

, moenie ons verstoot nie

1Vir die koorleier: Van die Koragiete. ’n Gedig.

2Met ons eie ore het ons gehoor,

o God,

ons voorouers het ons vertel

van alles wat U voorheen

gedoen het

in die dae lank gelede.

3U self

het die heidense nasies

uitgedryf deur u mag

en die land

aan ons voorouers gegee.

U het hulle vyande vernietig,

en ons voorouers vrygemaak.

4Hulle het nie die land

met hulle swaarde verower,

of die oorwinning

deur eie krag behaal nie.

Dit was deur u krag,

deur u teenwoordigheid

en u goedheid,

omdat U hulle liefhet.

5U is my Koning en my God.

U bepaal oorwinnings

vir Jakob.

6Ons kan deur u krag

ons vyande verslaan

en ons aanvallers

in u Naam vertrap.

7Ek steun nie op my boog

of op my swaard

om my te red nie.

8Want U gee die oorwinning

oor ons vyande;

U bring vernedering

oor dié wat ons haat.

9O God, ons prys U die hele dag

en loof u Naam voortdurend.

Sela

10Maar nou het U

ons weggestoot in skande.

U trek nie saam met ons leërs

na die geveg toe nie.

11U laat ons vlug

voor ons vyande;

dié wat ons haat,

plunder na hartelus.

12U lewer ons uit

soos slagskape;

U het ons

onder die nasies verstrooi.

13U volk het U verkoop vir niks

en self het U nie

daarby gebaat nie.

14U het ons ’n veragting gemaak

by die bure,

’n bespotting en beskimping

vir almal om ons.

15U het ons ’n spotnaam

onder die nasies gemaak,

almal skud maar net die kop

daaroor.

16My skande is dag na dag

voor my;

oor my gesig

is skaamte geskryf.

17Al wat ek hoor,

is die lasteraar

en die kwaadspreker.

Al wat ek sien,

is die vyand en die wreker.

18Dit het gebeur

hoewel ons U

nie vergeet het nie,

en nie aan u verbond

ontrou was nie.

19Ons het U nie verlaat nie,

en nie van u paaie

afgedwaal nie.

20Maar in die woestyn

het U ons verpletter;

donkerte en dood

het U oor ons gebring.

21As ons opgehou het

om ons God te dien

of by vreemde gode

hulp gaan vra het,

22sou God dit nie weet nie?

Hy ken immers

die geheime van die hart.

23Om u ontwil

word ons elke dag doodgemaak,

word ons behandel

soos skape wat geslag moet word.

24Word wakker!

Waarom slaap U, Here?

Staan op!

Moenie ons

vir altyd verstoot nie!

25Hoekom kyk U anderpad?

Hoekom kyk U verby

ons ellende en verdrukking?

26Ons lê verneder in die stof,

met die gesig in die grond.

27Staan op! Kom en help ons!

Red ons

ter wille van u troue liefde.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help