MIGA 3 - Nuwe Lewende Vertaling

Oordeel oor Israel se leiers

1Luister, leiers van Israel!

Is julle nie veronderstel

om te onderskei

tussen reg en verkeerd nie?

2Julle haat egter wat goed is

en is lief vir wat sleg is.

Julle slag mense lewendig af

en skeur hulle vleis

van hulle bene af.

3Julle eet my volk se vleis,

sny hulle velle af,

breek hulle bene aan stukke.

Julle kap hulle op

soos vleis vir die kookpot.

4As julle na die Here roep

vir hulp in nood,

sal Hy Hom nie

aan julle steur nie.

Na al die verkeerde dinge

wat julle gedoen het,

sal Hy julle ignoreer!

5Die Here sê

vir die vals profete:

“Julle mislei my volk!

Julle beloof vrede vir die mense

wat vir julle kos gee,

maar verklaar oorlog teen hulle

wat weier om te betaal.

6Dit gaan nag wees vir julle

sonder enige visioene.

Die duisternis sal maak

dat julle niks

oor die toekoms kan sê nie.

Die son gaan sak vir die profete.

Hulle dae is getel.

7Die sieners

sal in die skande kom,

die waarsêers

sal verleë staan.

Uit skaamte sal hulle almal

hulle gesigte bedek,

want daar is geen antwoord

van God nie.”

8Wat my lewe betref,

ek is vol van die Geesteskrag

van die Here.

Regverdigheid en sterkte

vul my lewe.

Sonder enige vrees

sal ek

met die mense van Israel praat

oor hulle opstand

en sondes.

9Luister na my, leiers van Israel!

Julle haat regverdigheid

en verdraai die reg.

10Julle bou Jerusalem

op ’n fondasie

van moord en bedrog.

11Julle leiers lewer uitsprake

vir omkoopgeld.

Julle priesters onderrig mense

teen vergoeding.

Julle profete voorspel

teen betaling.

Tog verwag hulle

dat die Here hulle sal help.

Hulle sê:

“Die Here is by ons,

geen kwaad sal ons tref nie.”

12Julle is die oorsaak

dat die tempel gaan wees

soos ’n omgeploegde land.

Jerusalem

sal soos ’n puinhoop lyk

en die tempelberg

soos ’n toegegroeide heuwel.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help