JEREMIA 11 - Nuwe Lewende Vertaling

Juda het die verbond verbreek

1Die Here het vir Jeremia nog ’n boodskap gegee. Hy het gesê:

2“Herinner die inwoners van Juda en Jerusalem aan die voorwaardes van die verbond met My.

3Sê vir hulle: ‘Die Here, die God van Israel, sê: Daar rus ’n vloek op mense wat nie gehoorsaam is aan die voorskrifte van my verbond nie!

4Ek het vir julle voorouers gesê toe Ek hulle as slawe in Egipte vrygemaak het: Julle moet aan My gehoorsaam wees. Doen alles wat Ek julle beveel om te doen. Dan sal julle my volk wees en Ek sal julle God wees.

5“‘So sou Ek die belofte hou wat Ek met ’n eed aan julle voorouers gemaak het. Ek sal hulle ’n land gee waar melk en heuning vloei. Dit is die land waarin julle nou lewe.’”

Ek het geantwoord: “Dit is so, Here!”

6Toe sê die Here: “Kondig hierdie boodskap aan in Juda se dorpe en Jerusalem se strate en sê: ‘Onthou die voorskrifte van hierdie verbond wat Ek met julle gesluit het, en kom dit na!

7Toe Ek julle voorouers uit Egipte gebring het, het Ek hulle by herhaling gewaarsku en gesê: Wees gehoorsaam aan My!

8Maar julle voorouers het hulle nie daaraan gesteur nie. Hulle wou nie eers luister nie. Elkeen het eenvoudig sy eie kop gevolg en verkeerde dinge gedoen. Hulle wou nie doen wat Ek hulle beveel het om te doen nie. Omdat hulle ongehoorsaam was, het Ek die strawwe wat in die verbond opgeteken is, oor hulle gebring.’”

9Die Here het weer met my gepraat en gesê: “Ek het ontdek dat daar ’n komplot is teen My onder die mense van Juda en Jerusalem.

10Hulle begaan nou dieselfde oortredings as hulle voorouers. Hulle weier om te doen wat Ek hulle beveel het. Hulle loop agter ander gode aan en aanbid hulle.

“Israel en Juda het die verbond wat Ek met hulle voorouers gesluit het, verbreek.

11Omdat hulle so optree,” sê die Here, “sal Ek hulle tref met ’n ramp wat hulle nie sal vryspring nie. Al smeek hulle My om hulp, sal Ek nie na hulle luister nie.

12Dan sal die mense van die dorpe van Juda en van Jerusalem na hulle afgode roep om hulp. Hulle sal selfs vir hulle wierook brand. Maar as die ramp hulle tref, sal die afgode hulle nie kan red nie.

13“Juda, julle het net soveel afgode as wat julle dorpe het. Julle het ook op baie plekke altare opgerig om wierook vir Baäl te offer, amper soveel plekke as wat daar strate in Jerusalem is. Wat ’n skande!

14“Jeremia, jy moenie meer vir hierdie mense bid nie. Dit sal nie help dat jy huil en by My pleit vir hulle nie, want Ek sal nie luister as hulle in die moeilikheid is en na My roep om hulp nie.

15“Ek het my mense baie lief,

maar watter reg het hulle

om na die tempel te kom

as hulle hulle vantevore

so sleg gedra het?

Kan hulle offerandes

die vernietiging keer?

In werklikheid geniet hulle dit

om verkeerd te doen!”

16Die Here sê:

“Daar was ’n tyd toe Ek julle

’n pragtige groen olyfboom

genoem het.

Julle was mooi om te sien,

vol goeie vrugte.

Maar Ek stuur die vyand,

wat soos weerlig die boom

aan die brand steek

en al die takke verskroei.

17“Ek, die Here,

die Almagtige,

het hierdie olyfboom

geplant,

en Ek gee

opdrag dat dit vernietig word.

Want die mense van Israel en Juda

het bose dinge gedoen.

Hulle maak My kwaad

deur wierook

vir Baäl te offer.”

’n Sameswering teen Jeremia

18Die Here het my toe ingelig dat my vyande besig was om ’n komplot teen my te smee.

19Ek was soos ’n lam wat hulle weggelei het om te slag. Ek was onbewus daarvan dat hulle van plan was om my dood te maak. Hulle het gesê:

“Kom ons raak ontslae

van hierdie boom

en sy vrugte.

Kom ons maak hom dood,

dan sal niemand ooit onthou

dat hy geleef het nie!”

20Maar, Here, Almagtige,

U tree altyd regverdig op.

U ondersoek

wat in ’n mens aangaan,

U weet selfs wat ons dink.

Laat ek sien

hoe U wraak neem,

want ek het my saak

in u hande gelaat.

21Daarom sê die Here van die mense van Anatot: “Hulle wil jou doodmaak, Jeremia, omdat jy namens My profeteer. Hulle sê hulle sal jou doodmaak as jy nie ophou om dit te doen nie.”

22Die Here, die Almagtige, sê van hulle: “Ek gaan hulle straf! Hulle jong mans sal in gevegte sterf, hulle kinders sal van honger doodgaan.

23Nie een van hulle sal bly lewe nie. Ek gaan onheil oor die mense van Anatot bring. Die tyd om hulle te straf, het aangebreek.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help