JESAJA 50 - Nuwe Lewende Vertaling

Israel se sonde

1Die Here vra:

“Waar is die skeibrief

waarmee Ek jou moeder

weggestuur het?

Of aan wie van my skuldeisers

het Ek jou verkoop?

Nee, julle het julleself verkoop

met julle oortredings

en dis oor julle sondes

dat Ek julle moeder

weggestuur het.

2Waarom was daar niemand

toe Ek gekom het nie?

Hoekom was daar nie antwoord

toe Ek geroep het nie?

Is my arm te kort om te red?

Is Ek te swak om jou te red?

Ek dreig die see,

en dit droog op.

Ek verander riviere in woestyne

sodat al die visse vrek

omdat die water opgedroog het.

3Ek laat die lug donker word,

want die aarde rou.”

Die Here

se gehoorsame dienaar

4Die oppermagtige Here

het my geleer

sodat ek dié wat moeg is

moed kan inpraat.

Elke môre maak Hy my wakker

en leer my luister

soos dit ’n leerling betaam.

5Die oppermagtige Here

het my ore oopgemaak.

Ek was nie teen Hom opstandig nie.

Ek was nie ontrou aan Hom nie.

6Ek het my rug gehou

sodat hulle my kon slaan,

my wang

sodat hulle my baard kon uittrek.

Ek het nie my gesig weggedraai

toe hulle my gespot

en in die gesig

gespoeg het nie.

7Omdat die oppermagtige Here

my help,

sal ek nie in die skande kom nie.

Ek het my gesig

hard soos vuurklip gemaak.

Ek weet ek sal nie

in die verleentheid kom nie.

8Hy wat my sal verdedig,

is naby.

Wie sal dit waag

om ’n aanklag teen my te lê?

Laat ons elkeen sy saak stel!

Wie is my aanklaer?

Laat hom vorentoe kom.

9Die oppermagtige Here

is aan my kant!

Wie kan my skuldig verklaar?

Almal wat my beskuldig,

sal vergaan

soos ’n kledingstuk

wat deur motte gevreet is!

10Wie van julle

dien die Here

en doen wat sy dienaar sê?

Hy wat sonder enige lig

in die donker loop,

moet vertrou

op die Naam van die Here,

en staatmaak op sy God!

11Maar julle wat vure aansteek,

wat brandende fakkels

gereed kry,

in julle eie vuur sal julle brand.

Julle eie fakkels

sal julle doodbrand.

Dit is wat julle

uit my hand sal ontvang.

In smart sal julle gaan lê.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help